Die Ontwaking – ’n Lig in die donker gang vir rillers in Afrikaans | Bioskoop

Die Ontwaking

’n Lig in die donker gang vir rillers in Afrikaans
Film

Film

Info

Regie: Johnny Breedt

Met: Gys de Villiers, Juanita de Villiers, Jaco Muller, Gérard Rudolf en Armand Aucamp

www.showroomtheatre.co.za

Gerhard Ehlers

Gerhard Ehlers

Artikel Skrywer

Gerhard Ehlers is ‘n passievolle filmmaker, en het al sedert sy skoolgaan jare die draaiboeke en regie van drie onafhanklike kortfilms behartig. Hy het sy B-Tech graad in Film en Televisie Produksie aan die Tswhane Universiteit van Tegnologie behaal

Lees Meer

Click to accept cookies and enable this content

As daar twee genres in die Suid-Afrikaanse filmbedryf is waarmee daar nie gereeld ondersoek of mee geëksperimenteer word nie, is dit beslis die gruwel- en riller-genres. Probeer ’n mens terugkyk en ’n blik kry op wat al in hierdie lang, donker, onvoorspelbare gang van bangmaakstories gemaak is, is daar maar weining wat gehore se nekhare laat rys het. Dirk de Villiers se My Broer se Bril (1972), sowel as Ongewenste Vreemdeling (1974) uit die pen van Jans Rautenbach, kan eerder as donker dramas bestempel word.

Meer onlangs is veteraan speurverhaalskrywer, Deon Meyer, se gelyknamige verwerking van sy boek Die Laaste Tango nie baie goed deur gehore en kritici ontvang nie. 2010 se bloeddorstige Night Drive is weer deur baie gekritiseer dat dit te min om die lyf gehad het. Die groot vraag is, hoekom word daar nie rillers en gruwels in Afrikaans gemaak nie, en waarom is die handjievol wat wel gemaak word, nie so suksesvol soos die hordes romantiese komedies of soetsappige “musicals” waarvan ons die afgelope dekade so ‘n oordosis kry? Het dit dalk iets met ons samelewing en tekort aan diversiteit te make? Wil Afrikaanse gehore regtig hierdie genres in ons moedertaal sien en hoor?

Abel Lotz se trilogie deur skrywer Chris Karsten is die nuutste boekreeks wat die gedaanteverwisseling van bladsy na skerm ondergaan het. Chris, wat al ’n klompie jare in Kanada woon, het lesers die eerste keer aan Abel Lotz bekend gestel in die eerste van drie boeke getiteld Abel se Ontwaking. In dié boekreeks het ons Abel Lotz, die eienaar van ’n eksklusiewe maskergallery, leer ken as die hinkepink psigopaat met ‘n onwrikbare drang om jong vrouens te teiken, te ontvoer en hulle tatoeërmerke uit te sny – dit alles vir sy persoonlike “kunsversameling”

Aan die filmkant van die oorgangsproses, is dit Johnny Breedt, wat al op verskeie internasionale rolprente as produksie-ontwerper gewerk het, wat die regie van Die Ontwaking behartig. Saam met sy span bring hulle nie net ’n moeilike onderwerp na die grootskerm nie, maar neem hulle ook ’n reuse kans om hierdie meestal onbekende en ingewikkelde genre aan ‘n Afrikaanse gehoor te bring.

Gys de Villiers speel Abel Lotz en hy staan nie verniet as een van ons land se “groottes” bekend nie. Hy kry nie net al die fisiese kenmerke wat lesers in die boekreeks van lees, goed onder die knie nie, maar as akteur slaag hy daarin om Abel se psige gestalte te gee – verseker dié rol en element in die film wat goed slaag. Die oorblywende filmelemente is ongelukkig effens nader aan ’n misoes.

Die rolle van Offisier Nessar en die joernalis Collipepper wat deur Juanita de Villiers en Jaco Muller onderskeidelik vertolk word, kom nie oortuigend genoeg na vore nie. Veral Offisier Nessar se karakter herinner geensins aan dié van die komplekse en taai Nessar in die trilogie nie. Ander karakters soos dié van Fred Lange gespeel deur Gérald Rudolf, sowel as Sersant Silas Sauls vertolk deur die veelsydige Paul Eilers, slaag meer daarin om die kykers se aandag te behou. Op die ou end kan die spelers net soveel bydra tot ’n gebrekkige teks met tonele wat onafgerond voorkom.

Een aspek van Die Ontwaking se verwerkte teks wat aanvanklik as verfrissend voorkom, is die kru-taal. Nes in Karsten se boeke, is die kru-taal een met die karakters wat die harde dialoog natuurlik en oortuigend uitspoeg. Ongelukkig raak die gekruide dialoog in die rolprent teen die tweede bedryf geforseerd en onnatuurlik.

Die kinematografie herinner aan die Skandinawiese onafhanklike rolprente, met sy kenmerkende uitgewasde en bleek voorkoms, wat op ’n visuele sowel as subtiele vlak aan Abel se fantasiewêreld herinner. Die openingskoot van ’n haas wat deur Abel skoongemaak en uitgehol word, saam met die ongerusstellende klankbaan wat stilletjies deursyfer, laat ’n mens beslis regop sit.

Die Ontwaking is nie die Afrikaanse riller waarna gehore al jare lank (of dalk nie?) hunker nie, maar terselfdertyd is die film beslis ’n stap in die regte rigting. Johnny Breedt en sy span kan hulself gerus ’n klop op die skouer gee. Wie weet, nie lank van nou af nie, wanneer rillers en gruwels nes die ander genres ’n verdiende plek op die grootskerm het, sal gehore dalk terugkyk en onthou dat dit mos Gys de Villiers se Abel Lotz was, wat met sy swart stewel die krakende deur aan die einde van hierdie lang, donker gang op ’n skrefie oopgestoot het.

Bruto(ZAR)

Skerms

Bitnami