Die Bloedhonde

Op die spoor na die waarheid

Resensie

Deur

Gerhard Ehlers

Katrien van Schalkwyk (Elani Dekker) is uniek en anders.

Sy verpes haar familie wat als en almal blindelings vertrou en die dominee soos getroue skapies volg. Katrien ken mense, glo nie in die hel nie, en sien dwarsdeur die skynheilige maskers wat mense opsit. Veral die masker wat Ds. Lukas (Tobie Cronjé) opsit.

Dis die jaarlikse Van Schalkwyk Desember-wegbreek op Bitterfontein vakansieoord en Katrien is opsoek na die waarheid. Sy is op die spoor van ‘n moordenaar. Saam met die permanente inwoner en daggarokende Jasper (Waldemar Schultz) span hierdie twee onwaarskynlike karakters kragte saam as “die bloedhonde” om ‘n raaisel op te los.

Na ‘n brief ontdek word waarin Hansie Muller (Darren Cloete) sy aanneemouers groet en sy lyk in die rivier ontdek word, is geskokte vakansiegangers oortuig dit was selfmoord, maar nie Katrien nie. Sy is oortuig dat Ds. Lukas iets wegsteek.

Stiaan Smith se komedie-moordraaisel as debuutregisseur slaag op vele vlakke. Die vrae wat Katrien en Jasper probeer beantwoord lei die gehoor op ‘n soektog wat met al die bekende bestanddele van ‘n Sherlock Holmes moordraaisel gepaard gaan. Kinkels, “red herrings”, valse verdagtes en allerlei leidrade hou die gehoor enduit aan die raai en die ontknoping is ‘n verrassing.

As komedie slaag “Die Bloedhonde” wel nie heeltemal nie. Die komiese element vind nie lekker vastrapplek midde in die moordraaisel nie. Die grappe voel soms geforseerd en ander kere te lig in die broek. Katrien se karakter met haar ernstige uitkyk op die lewe en strewe na die waarheid sukkel soms met lomp en oordrewe dialoog saam met ‘n styfheid wat die “chemistry” tussen haar en Waldemar se Jasper ongemaklik op skerm laat voorkom. Hulle vriendskap oortuig nie altyd nie.

As die film effens langdradig en miskien selfs vergeetlik voorkom, sal die versteekte tema dalk lank na die eindtitels die kyker bybly. Die Bloedhonde gaan oor die soeke na jouself en jou eie waarheid. En soms is dit genoeg.

Inligting

}

Speeltyd

135 min

i

Teks & Regie

Stiaan Smith

Webtuiste

Skerms

s

Ouderdomsbeperking

13 S

Akteurs

Elani Dekker, Waldemar Schultz, Tobie Cronjé, Tanja Franzsen en Anrich Herbst

Sterre

3.5/5

Bruto Inkomste

0

WORD DEEL VAN DIE

Nie-Winsgewende Organisasie