Silwerskermfees

Die 12de Silwerskermfees nooi almal na Kampsbaai

Nuus

Deur

Rick Bronkhorst

Die 12de Silwerskermfees word by The Bay Hotel in Kampsbaai gehou tussen 28-31 Augustus 2024. Jy wil dit nie misloop nie!

Hierdie jaar beloof die fees om ‘n breë verskeidenheid produksies ten toon te stel op die groot skerm. Van die immer gewilde kort films, vollengte films en dokumentêre tot TV programme.

In 2023 het dit na dokumentêre projekte uitgekring en vanjaar is die opwindende shotgun-kortfilms prominent in die kollig. Die fees het verlede jaar die shotgun shorts-idee geloods, waar gevestigde filmmakers gevra is om voorstelle vir professionele kortfilms voor te lê en in Augustus word dié films by die fees bekend gestel.

Buiten die ses shotgun-kortfilms tel ses speelfilms (vol lengte flieks), agt kortfilms (deur opkomende rolprentmakers) en vyf kort dokumentêre rolprente onder vanjaar se debuutwerke.

Van die hoogtepunte sluit in:

‘n is ’n musikale dokumentêr deur Dirkie van der Merwe en die akteur Beer Adriaanse, Vergeet van My. Die behels Beer se deelname aan 17 “bands” insluitend die bekende Zinkplaat. Die dokumentêr sluit musiek van Zinkplaat, Foto na Dans, eF-eL, Straatligkinders, Tidal Waves, New Holland en nog baie meer in.

Ons, ’n dramatiese riller deur Izel Bezuidenhout, handel oor die getroude paartjie Liezl (Izel Bezuidenhout) en Dirk (Jacques Adriaanse) wie se verhouding tot in die fondasies deur ’n reeks onthullings en ’n noodlottige gebeurtenis geskud word. Hulle word gedwing om hul diepste vrese, onsekerhede en die gevolge van hul dade in die gesig te staar. Gaan hul lewens ooit weer dieselfde wees? Verraad, misverstande, liefde, dood en die sin van die lewe voer die botoon.

Steek vir steek, ’n komedie deur Jacqueline Viljoen en Jaco van Bosch, handel oor Rita (Susan Coetzer), ’n bejaarde vrou, en die tannies van haar breiklub wat ontdek dat hul aftree-oord verkoop gaan word. Hulle span saam om die jong eienaar, Gertjie (Andrew Jordaan), te konfronteer.

Johann Vermaak se kortfilm Die Groot Twis het ’n heerlike retro-inslag met marionette, wat Marelize Viljoen se handewerk is. Dit gee ’n satiriese blik op die Groot Trek, met ’n aweregse perspektief op historiese figure en gebeure wat die poppe behoorlik laat dans.

Bennie Fourie se Baas se Honne, waarvan hy ook die regie hanteer, is ’n donker komedie wat oor die wel en wee van Gys (Albert Pretorius) gaan. Sy lewe is ’n gemors en hy bevind hom in ’n donker hoekie. Sy baas, Roelf (Carel Nel), saal hom op met ’n hondjie wat hy wil hê Gys van kant moet maak. Maar hoe kry enigiemand dit oor sy hart om ’n onskuldige brakkie wat niks makeer nie, uit die lewe te help? Gys moet ’n plan maak, want dis óf sy werk óf die woef. Die Safta-bekroonde musikant Peach van Pletzen het die klankbaan vir dié opwindende shotgun short gedoen.

Quanita Adams bring aan ons Hier.Na as draaiboekskrywer akteur en regisseur. Die film spreek onder meer temas van gemeenskap- en geloofskwessies aan, en vertel die storie van die Burgess-familie, ’n oopkop gesin wat in die Kaapse noordelike voorstede bly. Quanita se karakter is Juleigha, wat verkies om eerder Julie genoem te word en haarself as ’n “nie-praktiserende Moslem” beskryf. As sy skielik aan ’n hartaanval sterf, gee haar sekulêre man, Eric (David Isaacs), toe aan hul dogter Leila (Shiefaa Hendricks), se versoek om saam met Julie se ma, Sumaya (June van Merch), ’n Moslem-begrafnis te reël. Eric, Leila, Sumaya en Julie se seun, Deen (Lyle October), moet nou jare se konflik en onderstrominge binne een onstuimige dag navigeer sodat sy, soos die Moslem-tradisie vereis, voor sonsondergang begrawe kan word.

In nog ’n komedie, Som van Twee, skuif die Hotel-aktrise Simoné Pretorius agter die kameras in as draaiboekskrywer en regisseur. Louw Venter speel Henk, ’n sielkundige, wat wil moed opgee ná die dood van sy vrou en sukkel om tot sy seun, Renier (Adriaan Havenga), deur te dring. By sy vrou se begrafnis bieg Henk dat hy destyds die matriek-wiskundevraestel aan die ganse Barberton uitgelek het, maar sy skuldbekentenis het ’n dramatiese, komiese domino-effek tot gevolg … Dié speelfilm het ’n sterbelaaide rolverdeling wat James Borthwick, Greteli de Swardt, Righard van Jaarsveld en Pierre Breytenbach insluit. Adriaan was vanjaar ’n uitskieter by die kykNET Fiëstas, waar hy twee toekennings ontvang het.

Annelize Frost maak haar debuut as regisseur met die oorspronklike Showmax romantiese komedie Gebokste Liefde. In dié film speel Devil’s Peak se Tarryn Wyngaard ’n geskeide enkelma, Suma-Lee, wat swaar begin trek as sy haar werk as modeontwerper verloor. Oorweldig deur woede, begin sy bokslesse neem, om op te staan vir haarself en om te baklei vir wat sy wil hê. Kykers sal Roché, wat self ’n model is, onthou vir sy deelname aan die eerste seisoen van die kykNET-werklikheidsreeks, Plaasjapie, speel haar eks-man en Jandré le Roux as haar afrigter.

Die KykNET Silwerkskermfees bied nuwe en minder ervare vervaardigers die geleentheid om ‘n fliek te maak onder moeilike omstandighede in die bedryf. Tans is daar min befindsing beskikbaar vir filmmakers en steeds staan die fees sterk. Iets in sig self om te vier.

Oudergewoonte sluit kykNET die fees af met die swierige Silwerskermtoekennings vir Film en TV waar die beste films van die fees saam met top-televisie vereer word.

Dié glansryke geleentheid word op Saterdag 31 Augustus by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) aangebied, waar die gesogte Silwerskermbeeldjies aan filmfees-presteerders en televisie-uitblinkers van die afgelope jaar uitgedeel sal word.

By die toekennings word die ikoniese kykNET-bloutapyt vir die grootste sterre uitgerol en top-musikante gaan vir vermaak op die verhoog sorg. Boonop sal dit die volgende aand, Sondag 1 September, op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word.

kykNET maak ook groter voorsiening vir die publiek om vanjaar se fees by te woon en kaartjies sal van 26 Junie op Quicket te koop wees. Teen slegs R 50 per persoon. Die kaartjie sluit springmielies in (per fliek of blok).

Besoek gerus die fees se webtuiste by: silwerskermfees.co.za

Fliek kaartjies: quicket.co.za

 

WORD DEEL VAN DIE

Nie-Winsgewende Organisasie