Catching Feelings – Goeie produksie in steek gelaat deur mislukte toneelspel | Bioskoop

Catching Feelings

Goeie produksie in steek gelaat deur mislukte toneelspel
Film

Film

Info

Teks en regie: Kagiso Lediga

Met: Kagiso Lediga, Pearl Thusi, Andrew Buckland, Akin Omotoso, Precious Makgaretsa, Kate Liquorish en Tessa Jubber

Speeltyd: 124 min

Ouderdomsbeperking: 16 DLNS

J.W. Hurter

Artikel Skrywer

Lees Meer

Soms onderskat ek ’n film. Soms dink ek dat ek verveeld gaan sit en my duime rol terwyl ek hoop dat daar een of ander neiging na ’n klimaks sal wees en soms is daar een, maar soms nie.

Catching Feelings handel oor die ongemak waardeur twee jong pasgetroudes gaan wanneer ’n befaamde skrywer onverwags by hulle intrek. Max, vertolk deur Kagiso Lediga, is ’n letterkunde dosent met ’n duidelike kompleks oor die verlede. Sonder om te blik of te bloos is hy die hoof antagonis in sy lesings wanneer daar gedebateer word oor letterkundige onderwerpe, en dit word vinnig duidelik dat sy frustrasies oor ‘n mislukte loopbaan as ’n voormalige gepubliseerde skrywer hom inhaal. Sy beeldskone vrou, Sam, vertolk deur Pearl Thusi, raak vinnig issigrimmig met Max se ewige neiging om als as ’n aanslag op sy ras en kultuur te interpreteer en begin hom die koue skouer gee.

Heiner, vertolk deur Andrew Buckland, is ’n befaamde geëmigreerde skrywer wat na Suid-Afrika teruggekeer het vir sy nuutste boek se vrystelling. Max kook van jaloesie, maar verklap niks op sy strak gesigsuitdrukkings nie. Skielik tree Max ietwat menslik op deur Heiner, van wie hy nie die grootste aanhanger is nie, onder sy vlerk te neem en sy tuiste binne te nooi. Dis dan dat die paw-paw die fan strike. Skielik maak die draaiboek ’n omkeer en word die hooftema van die film dié van onsedelike gedrag en doellose skokmateriaal.

Alhoewel die produksie die prag van voorheen onverkende gebiede in Johannesburg toon, en musiek effektief gebruik om die atmosfeer van elke toneel perfek te skep, word dit onderdruk deur toneelspel wat blyk asof dit die eerste rol is wat deur ’n pas afgestudeerde akteur vertolk word. Daar is geen oortuiging dat die karakters se emotiwiteit eg is of dat daar nie ’n regisseur net buite die skoot staan nie. Verder word die wesenlike werklikheid wat gepoog is om geskep te word, afgebreek deur prominente diskontinuïteit en byklanke wat slegs gepas sou wees vir ’n sepie.

Die produksie spreek wel ’n paar belangrike temas aan wat oor die algemeen deur die publiek onderdruk word, maar delf nie diep genoeg om onbetwisbare positiewe gevolge in die denkwyse van die gehoor teweeg te bring nie. Ja, die temas is realisties en versteek in die onderbewussyn van die gehoor, maar die greep wat die film op die gehoor se aandag het, word tot niet gemaak deur ongepaste tonele.

As ’n geheel was die film volgens my nie indrukwekkend genoeg om die Los Angeles Filmfees se Wêreld Fiksie Toekenning nominasie te regverdig nie. Dit is ’n tydlose geskommel van gebeure wat na niks neig nie. Ek sê nie dat die film nie die moeite werd is om te kyk nie, ek impliseer egter net dat ek eerder enige iets anders sou wou kyk.

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar