Bypass – Ondergrondse orgaanhandel ontbloot | Bioskoop

BYPASS

Ondergrondse orgaanhandel ontbloot
Film

Film

Info

Teks: Diane Vermooten, Bianca Schmitz en Shane Vermooten

Regie: Shane Vermooten

Met: Natalie Becker, Hakeem Kae-Kazim, Greg Kriek, Deon Lotz, Joel Brown, Shoki Mokgapa en Matthew Dylan Roberts

bypassmovie.com

Dee Theart

Dee Theart

Artikel Skrywer

Dee Theart is ’n veelsydige vermaaklikheids- en mediaslaaf. Haar kwalifikasies sluit ’n BDram-graad en ’n nagraadse kwalifikasie in Vertaling en Redigering in. Sy is die gesig en stem by Silverstar Casino as MC. Verder is sy is ook passievol oor stemwerk en toneelspel en pak gereeld projekte in hierdie velde aan. Lees Meer

Click to accept cookies and enable this content

Sagte klassieke musiek wy die eerste toneel van Bypass in terwyl die kyker direk by ’n komplekse hartoperasie ingetrek word. Die vrou wat die hele operasie orkestreer (nes die dirigent wat vir die strelende klassieke klanke verantwoordelik is), is die gefokusde en beheersde hartchirurg, Dr. Lisa Miller (vertolk deur Natalie Becker). Sommer van die staanspoor af is dit duidelik dat Bypass Suid-Afrikaanse stereotipes op sy kop wil draai en kykers wil uitdaag tot ’n ander tipe grootskerm ervaring.

Die kontras in die storie is gou duidelik: Dr. Lisa wat elke dag pasiënte se lewens red se eie seun, Sam, word by die dag swakker, omdat hy nou al vir sowat twee jaar sukkel om ’n geskikte lewerskenker te kry. Wanneer Dr. Martin Fischer (Greg Kriek) vir Lisa vertel van ’n kliniek in die Ooste van Afrika wat vir Sam kan help, gee sy toe, al weet sy dat hierdie kliniek moontlik onetiese praktyke toepas. En so ontvou ’n nagmerrie ekspedisie na die New Life Clinic in die fiktiewe land Jalloh Africa in Oos-Afrika.

Wat maklik ’n in-diepte dokumentêr oor onwettige orgaanhandel kon wees, is deur Shane Vermooten en sy span in ’n spannende riller omskep. Die keuse van genre is slim gekies en toegepas en  vermaaklik (as jy hou van die riller genre). Die uitbeelding van die kliniek met sy donker kamers en onheilspellende gange maak ’n vreesaanjaende gevoel in jou wakker. Kombineer dít met ʼn donker kleurgradering, die gebruik van wasige kinematografie op die regte plekke en gepaste bangmaak-musiek, en daar is genoeg elemente om jou op die voorpunt van jou stoel laat bly sit.

Die filmspan was dapper  om onwettige orgaanhandel uit te beeld sonder die werklike agtergrondskennis (in hulle eie woorde is dit natuurlik moeilik om werklik navorsing te doen oor ʼn praktyk waar die rolspelers hulself maar skaars hou). Die fiktiewe New Day Clinic is dalk ’n so na-aan-die-waarheid-as-moontlik uitbeelding, en sinspeel op die motief dat een ryk lewe meer kosbaar as ’n arme s’n is. Daarom is dit kwansuis regverdig dat arm mense hulle organe op die swartmark verkwansel.

Bypass se  toneelspel voel op tye onnatuurlik en geforseerd. Dit distansieer die kyker eerder as om aan te trek. Natalie Becker is ’n groot naam (sy het onder meer in Scorpion King II verskyn), maar kom ongelukkig nie tot haar volle reg as Dr. Lisa Miller nie. Sy mag wel oortuigend wees in die rol van ʼn dokter, maar as ma van ’n siek seun roer sy geen hartsnare aan nie. Die “regte” handelinge is daar, maar die innerlike emosies kom nooit ten volle na vore nie. Daar is ook min tot geen sigbare band tussen haar en haar rolprentseun, Sam (vertolk deur Joel Brown) nie. Dis ’n jammerte, aangesien ’n beter konneksie tussen ma en seun dalk die rolprent kon red. Dis tog wat ons wil sien – hoe ’n ma tot die mees ekstreme uiterstes sal gaan om haar seun se lewe te red. Die rolprent fokus ook te veel op Natalie se vroulikheid  – van haar lang, pragtige lokke wat in die gejaag wapper, tot haar netjiese en moderne uitrustings, al is sy en haar seun in ’n lewensgevaarlike situasie in die middel van Afrika. Alles lyk net té maklik vir haar. Dit voel amper asof die filmspan haar as die middelpunt van die rolprent wou hou, eerder as om die film se werklike doelwit na te streef.

Die rolprent se skurke (vertolk deur Greg Kriek, Deon Lotz en Hakeem Kae-Kazim) is die werklike sterre. Veral Kriek en Lotz skitter, juis omdat hulle oortuigend en eg voorkom. Lotz as die Nederlandse Dr. Wright verras met sy perfekte aksent en sy maklike vertolking van die bose dokter wat sonder om te blik of te bloos lewens vernietig en die onwettige bedryf verder aanstook. Dit geld veral vir Afrikaanse kykers wat gewoond is daaraan om hom as die liefdevolle vaderfiguur te sien. Kriek wys met sy veelsydige karakter dat daar nie net goed of net sleg in enigeen is nie. Die manier hoe hy sy karakter se verskillende fasette en omwentelings vertolk, verdien applous.

Ongelukkig kom die rolprent nie tot sy volle reg nie en dalk is die draaiboek en/of regie te blameer. Ek glo die warboel van boodskappe bots met mekaar en die filmspan moes eerder hulle fokus op een groot tema geplaas het. Dis onduidelik of hulle probeer bewys het dat bloed dikker as water is en dat ’n moeder enige iets vir haar kind sal doen; en of hulle wil hê mense moet hulself as orgaanskenkers lys die oomblik as hulle klaar die fliek gekyk het. Nie een van hierdie twee moontlike boodskappe is werklik suksesvol oorgedra nie. Dis hartseer, aangesien die fliek tot soveel meer in staat kon wees.

Bypass raak toenemend beter soos die fliek vorder en alhoewel ek nie my vinger daarop kan plaas nie, het die filmspan dalk meer gemaklik en selfversekerd geword soos die verfilming gevorder het. Die onnatuurlikheid van die rolprent (veral die begin) kan ongelukkig nie misgekyk word nie en dus is dit swaar om na die res van die rolprent te kyk. Dalk, net dalk, word jy eers aan die einde van die boodskap en kykervaring oortuig. Die rolprent se uiters suksesvolle bemarkingsveldtog is wel noemenswaardig, veral die feit dat mense wat hulself op die orgaanskenklys geregistreer het met 40% gestyg het tydens hulle veldtog.

As jy lus het vir iets anders op die Suid-Afrikaanse rolprentspektrum, gaan kyk gerus Bypass. Hulle het verseker iets vars gewaag en dis definitief nie al dag wat ons ’n mediese riller op plaaslike front te siene kry nie. Moet egter nie iets aardskuddends verwag nie. Die storie is aangrypend as gevolg van die spanningselemente, maar gaan jou agterlaat met ’n deurmekaar gemoed oor wat die rolprent eintlik te sê het, indien dit enige iets wou sê. Ek wil jou wel bemoedig om die rolprent te gaan kyk, omdat 10% van die wins aan die Stigting van Orgaanskenking geskenk gaan word. Tog – ’n fliek wat lewens gaan red, kan nie noodwendig ’n louwarm fliekpoging red nie.

Bruto(ZAR)

Skerms

Bitnami