Ballade is ‘n trein wat jy nie moet verpas nie | Bioskoop

Ballade vir 'n Enkeling

Ballade 'n trein wat jy nie moet verpas nie

Draaiboek: Leon van Nierop

Regie: Quentin Krog

Met: Armand Aucamp, Jacgues Bessenger, Rolanda Marais, Donnalee Roberts, Zak Hendrikz, Luan Jacobs, Edwin van der Walt en Christia Visser

Oud genoeg om te weet dat Ballade vir ’n Enkeling destyds op die kassie was, maar jonk genoeg om niks van die storie te weet nie, is ek opgewonde teater toe.  Die 2015-weergawe van die laat ’80’s-televisietreffer het geen bekendstelling nodig gehad nie – dit is wyd en syd geadverteer en ek kon selfs by ’n skoolbesoek* luister toe Van Nierop, die draaiboekskrywer, oor sy ervaring van die film (en die boek wat daarmee gepaard gaan) vertel.  En daar’s treine in.  Ek is mal oor treine. 

Click to accept cookies and enable this content

 

Die verhaal van Ballade is sy storie, het Van Nierop, self ’n bekende skrywer, gesê, “maar vandag kan die verhaal vertel word sonder dat dit versag word”.    

Reeds in die openingstoneel word die kyker getrakteer op Krog se pragtige fotografie:  ’n Skrywer toor met sy tikmasjien voor ’n groot oop venster, die duisende liggies van Johannesburg aan sy voete.  Later sal die kyker besef dat dit Jacques Rynhard (Armand Aucamp) is, ’n bekroonde jong skrywer wat geheimsinnig verdwyn. 

Die koerant speel ’n belangrike rol as ruimte én storieverteller in die film, want dis Carina Human (Donnalee Roberts) wat Jacques se verdwying begin ondersoek.  Sy is ‘n joerlanis by Montage, ’n sensasiegedrewe poniekoerant, al wil sy graag ernstige joerlanistiek by Rapport beoefen. Jacques se verdwyining maak onmiddellik opslae en Krog, ’n slim regisseur, sorg dat die kyker op interessante wyses bewus bly van die skrywer se skielike verdwying – dis op lampale, op koerantvoorblaaie en oor die radio, maar dit word altyd op so ’n wyse oorgedra dat dié inligting met netjiese kamerawerk in die rolprent ingeweef word.

Saam met Carina word die kyker by ’n ondersoek ingesleep wat stuk-vir-stuk ontvou en deur middel van terugflitse vir die kyker oopvou.  In die terugflitse, wat netjies gedoen word sonder die cliché van mistige sepia, ontmoet ons die drieluik waarom die storie se sentrale spoel draai:  Jacques, sy beste vriend Jan-Paul Otto en Lena Aucamp, al drie skoolkinders op die stasiedorp Kleinbegin.  Dis van die eerste oomblik af duidelik dat hier ’n liefdesdriehoek aan die ontwikkel is, maar Lena kies vir Jacques en Jan-Paul is die vyfde wiel aan die wa. 

Van die film se mooiste tonele speel in Kleingeluk af waar Jacques se pa ’n lokomotiefdrywer is en sy ma met haar tydskrifte bestaan.  Teen die agtergrond van die spoorweë en die armoede wat daarmee gepaard gaan, is daar pragtige detail wat opval: die treinstelletjie wat Jacquese se tikmasjien omarm, foto’s van lokomotiewe teen die muur, selfs ’n plakkaat van die Die Swart Kat.  Ook sy pa se speelse metafoor dat ’n vrou én ’n trein met groot respek en liefde behandel moet word, dra by tot ’n wonderlike oomblik van humor tussen pa en seun.

Kleingeluk is egter die toneel van ’n tragedie wat, ironies genoeg, groot ongeluk veroorsaak en al drie die jongelinge se lewens verander.

MP14

Carina is uiteindelik die een om die storie agter die storie te ontsyfer.  Saam met haar moet die kyker self na leidrade soek en ’n prentjie vorm – ’n uitstekende tegniek wat daarin slaag om die kyker geboei te hou.  Hoe baie die storie van die oorspronklike reeks verskil, weet ek nie, maar daar is beslis ’n paar hardebaard-tonele wat moontlik nié in die reeks gesien is nie.  Daar is egter ’n goeie skoot romanse en heelwat verrassings in die storie om selfs die gehardse kyker se hart te vermurwe.

Maar die film ontspoor tog plek-plek.  Soms kan die terugflitse die kyker  verwar, want iemand wat nie goed kophou nie, kan maklik deurmekaar raak met die nie-kronologiese vertelling.  ’n Voorbeeld hiervan is waar Jacques vir die eerste keer in ’n lang ruk weer vir Lena sien en mekaar vurig omhels buite haar kunsgalery.  Ek kon nie verstaan waarom die vermisde skrywers skielik so verskyn nie, net om uit te vind dit gebeur iewers tussen sy terugkeer uit Amerika en die uiteindelike verdwyning wat tot die ondersoek lei.

’n Ander ding wat pla, is dat die storie dikwels op sentiment staatmaak om patos – ’n gevoel van emosionele vereenselwing – te bewerkstellig, en dat liedjies soos “Voshaarnooi”, “Tussen treine” én die titellied daardie sentiment ry.  Hierdie liedjies, wat buite die konteks van die reeks en in eie reg vandag steeds gewild is, voel dus geforseerd en – heel ironies – nie tuis hier nie. Maar met die musiek is daar self nie fout nie, en saam met Benjamin Willem se oorspronklike musiek vorm dit tog ’n stewige fondasie vir die film.

MP03

Die laaste toneel ontlok my grootste kritiek.  Soms kán ’n flim doen sonder die “riding into the sunset”-moment, iets wat hier vir my die rolprent goedkoop eerder as goed maak.  Dalk skuil daar ’n opvolg in dié moment, maar in ’n fliek wat grootendeels geloofwaardig vertel word, het hierdie oomblik vir my net te onwaar gevoel. Ek wil dit natuurlik nie vir die kyker bederf nie, maar oordeel self of die film nie dalk een stasie vroeër moes stop nie.

Ten spyte van die slottoneel en die sentiment wat die film soms soetsappig maak, spog Ballade vir ’n Enkeling met ’n esamble akteurs wat hulle goed van hulle taak kwyt.  Ook die jong akteurs verras met toneelspel wat mens nie aldag in Afrikaanse rolprente sien nie.  Dit is geloofwaardig en goed afgerond.  Saam met ’n puik klankbaan – ja, selfs die ou gunstelinge klink baie goed in die monde van nuwe kunstenaars – en visuele effekte wat verfrissend is, is Ballade ’n trein wat jy nie moet verpas nie. 

*11 Maart 2015, Hoërmeisieskool Bloemhof, Stellenbosch

Deur: Stephan Meyer Jnr.

Volg Stephan op Twitter of besoek sy webtuiste Afrikaansvatter

Bitnami