‘n Pawpaw vir my Darling

’n Mengelmoesverhaal met hart en siel

Resensie

Deur

Anna-Marie Jansen van Vuuren

“Hoe kom dit dat mens en dier uitgespoeg word op ‘n plek waaruit jy altyd wil kom, maar nie kan nie?” – Tsjaka

Afrikaanse rolprente bied die afgelope tyd dikwels ’n blik op ’n glansryke bestaan wat baie ver verwyderd is van Jan Alleman se alledaagse lewe. Pragtige grimering, mooi uitrustings en pretensieuse praatjies vul ons skerms en dit word outomaties ’n onbereikbare ideaal waarvan ek en jy maar net kan droom. In sterk kontras met hierdie tendens, bied ervare rolprentmaker, Koos Roets, “’n lewe sonder trimmings” aan die kyker met sy rolprent, ’n Pawpaw vir my Darling.

Jeanne Goosen het in 2006 haar polities (in)korrekte, satiriese roman ’n Pawpaw vir my Darling uitgereik. Jare later kom Koos Roets hierdie einste boek toevallig teë (ons bronne sê dis te danke aan Katinka Heyns) en besluit eensklaps dat hierdie boek op die silwerdoek hoort. Koos het knap aan die boek se verhaal geskaaf en hier en daar ’n stertjie bygelas om sodoende die storie doeltreffend oor te dra sonder om die kernkonsep prys te gee.

Die rolprent neem die kyker op reis na Frik Du Preezstraat in die fiktiewe dorpie, Damnville (alhoewel dit seker nie toevallig soos ’n sekere armblanke dorp in Tshwane se naam klink nie). Hier leer ken ons hoofsaaklik vir Soufie en Vleis Beeslaer (onverbeterlik vertolk deur Deirdre Wolhuter en Deon Lotz) deur die oë en vertelling van hulle “pavement special” hond, Tsjaka (stem deur Tobie Cronjé).

Nes in die boek is Tsjaka en die res van die hondegemeenskap eintlik die ware hoofspelers van die storie. Deur Tsjaka se skerp en soms siniese opmerkings en opinies hoor die kyker eerstehands van die nukke en grille van Soufie en Vleis, asook hulle drie kinders, ander familielede en die breër Damnville-gemeenskap.

Die Beeslaers, nes die res van Damnville, probeer voortbestaan in die vroeë 2000’s, maar het agtergebly in die nuwe bedeling en oorlewing is dus ’n ewigdurende stryd. Geld is skraps, werkloosheid neem toe en die politiese toestand van die land loop ’n stadige afdraende pad. Dit afgesien, dra die drie volwasse Beeslaer-kinders se eie kwessies ook by tot veral Soufie se spanningsvlakke.

Die Beeslaer-kinders is Elvis (Hannes Brümmer), Rusty (Martelize Kolver) en Mabel (Jana Nortier). Dan is daar nog Soufie se ouma, Sally Carawan (Lida Botha), wat visioene sien en in ’n karavaan in hulle agterplaas woon, en Vleis se ma, die kamma-gesofistikeerde Girla (Marga van Rooy) en haar twee liefdesbelangstellings, die gladdebek Tango du Toit (Marcel van Heerden) en die Hollander, Salty Sprinkelgras (Jan Engelen).

Die storie word verder ingekleur deur die Beeslaers se bure, die Bonthuise. Sonde met die bure kry nuwe betekenis in Damnville. Basil (Willie Esterhuizen) met sy Hitler-snorretjie en sy vrou, Gissie (Brümilda van Rensburg), hou net mooi niks van die Beeslaers se luidrugtige partytjies nie en ontbied keer op keer die dorp se polisieman, Offisier Banda (Fezile Mphela). Die stank van die Bonthuise se hoenderhok en hulle tweelingdogters se konstante getokkel op ’n vals klavier gee weer vir Vleis genoeg rede om in ’n vuigeveg met Basil betrokke te raak. En moenie dink die twee vrouens staan net en toekyk nie. O nee, die hare waai behoorlik…

Die dorp se twee skinderbekke, Hannie van Oorkant (Sandra Prinsloo) en Huibie Hozapfel (Hélène Truter), sowel as die Beeslaers se kuiergatvriende, Hillies Grobbelaar (Esther von Waltsleben) en Walter Bungalow (André Odendaal), gee die storie verder lewe. Die eksentrieke seun van oorkant die pad wat die dorp se inwoners se oë laat rek met sy karate en hula-hoepel toertjies en ’n oog op Mabel het, Giepie Briel (Kaz McFadden), dra ook by tot laglekker-kykgenot.

Die rolprent loop oor van goue oomblikke: lig en laf versus diep en donker. Twee akteurs wat met reg uitsondering verdien (alhoewel ongeëwenaarde akteursvernuf in die hele rolverdeling te vinde is), is Deirdre Wolhuter en Marcel van Heerden. Deirdre speel Soufie met ongelooflike emosionele diepte en kry dit reg om die kyker saam te neem op haar reis wat strek van hunkering tot teleurstelling tot uiteindelike aanvaarding en dankbaarheid vir die eenvoudige lewe waarin sy haarself bevind het oor die jare.

Marcel, wat Tango speel, is seker die rolprent se mees vermaaklike karakter. Met sy parmantige opkrulsnor blyk dit asof hy hoog verhewe is bo die algemene Damnviller, maar hy truuk die ander karakters (en die kyker) keer op keer. Marcel se spel spreek boekdele van sy deeglike voorbereiding as akteur.

Die empatie waarmee Roets na hierdie kleurryke, dog uitgeworpe, karakters kyk, gee aan hierdie donker komedie ’n egtheid wat baie lanklaas op die grootskerm te sien was. Die galgehumor gaan moontlik nie in almal se smaak val nie, maar die deernis waarmee Jeanne Goosen die karakters geskep het, sal enige kyker se hartsnare roer. Haarfyn-detail is aan die Damnville-stel en kostumering gegee om die storie nog meer identifiseerbaar te maak.

Die wonderlike klem op universele lewenstemas eerder as een hoofstorie is wat Koos se nuutste werk gaan laat uitstaan. Etlike fyn storiedraadjies weef saam die oorhoofse idee van die rolprent: drome wat soms wonderbaarlik verwesenlik en soms verpletter word en familiebande wat die krag het om jou op te bou en ook af te breek.

Bowenal is dit ’n storie van nuwe hoop en die besef dat die lewe se werklike geluk in die klein dingetjies verborge is. ’n Lewe sonder “trimmings”. Daag jouself uit om aan die anderkant van die treinspoor te gaan kuier om ’n greep uit die lewe van die Damnville-inwoners te beleef.

Inligting

}

Speeltyd

99 min

i

Teks & Regie

Koos Roets

Skerms

25

s

Ouderdomsbeperking

 10–12PG L

Akteurs

Deon Lotz, Deirdre Wolhuter, Jana Nortier, Sandra Prinsloo, Wilie Esterhuizen, Fezile Mpela, Hélène Truter, Lida Botha,m Marcel Van Heerden, Brümilda Van Rensburg, Jan Engelen André Stolza, Dambuza Nquamashe, André Odendaal, Ester Von Waltsleben, Hanli Rolfes, Martelize Kolver, KAz McFadden, Marga Van Rooy

Sterre

4.5/5

Bruto Inkomste

0

Word deel van die vriendekring