–
Prime
Die skrikwekkendste deel van dié riller is sy speeltyd
Resensie
Deur
Roelof Bezuidenhout
Prime is ʼn film geskryf en geregiseer deur Thabiso Christopher. Dis meerendeels ʼn sielkundige riller, met beide ʼn sterk dramatiese- asook ʼn bonatuurlike element wat deel vorm daarvan. Die storie fokus op Marius (gespeel deur Richard Gau) en speel op die dag af wanneer sy vervreemde pa tot sterwe kom. Trauma van die verlede, tesame met werksdruk, en die feit dat sy pa nooit die interras-verhouding wat Marius met Thembi (Nomsa Twala) het, aanvaar het nie, kom gelyktydig na vore. Voeg nou drie eetlepels van die bonatuurlike elemente by, vernaam in die vorm van die verleidingsgodin Eva (vertolk deur Jasmine Hazi) by, en jy sit met ʼn behoorlike resep vir… ʼn deurmekaarspul.
Marius het klaarblyklik reeds allerhande demone in sy verlede (wie van ons het nie?), onder meer dat sy ma selfdood gepleeg het nadat sy tiraniese pa boonop sélf ʼn buite-egtelike kind met ʼn dame vanuit ʼn ander rasgroep verwek het. Hy het nooit sy pa hiervoor vergewe nie. Tog is daar ook groter kragte hier te bespeur: dié van Na’amah, ʼn sleutelfiguur uit Joodse-Christelike mitologie wat glo een keer per jaar uit die oseaan verrys om die omgewing se mans te terroriseer en te vernietig. In Prime word dié figuur aan ons voorgestel as ʼn verleidelike kubersekswerker wat later as “slegs ‘n vriendin” en “iemand om mee te praat” in Marius se lewe inkom, net om later sy lewe verder te verwoes. Maar is dié persoon bloot ʼn personifikasie van Marius se donker dieptes, of meer?
Prime is by verre nie die langste fliek wat al ooit gemaak is nie, maar dit vóél so. Dis langdradig. Die lang tonele is niksseggend. En aan die einde is daar steeds geen ontknoping of definitiewe resolusie vir die storie nie. Die bekende gesegde “Ek sou ʼn korter brief geskryf het as ek meer tyd gehad het” is dalk hier van toepassing. In my opinie sou Prime beter gewerk het as dit letterlik as ʼn kortfilm vrygestel is.
Tesame met die rolprent se goeie kamerawerk en musiek (hoewel baie minimaal), is die spel ook nie die slegste aspek van die film nie. Veral Nomsa Twala as Thembi lewer ʼn geloofwaardige vertoning (en dis jammer dat meer aandag nie ook aan haar dilemmas gegee word nie), terwyl Gau as Marius (die hoofrol) homself goed van sy taak gekwyt het. Daar is wel tonele waar hy deur ‘n reeks emosies moet werk waarvoor ek voel sy spel te lig in die broek was. Ongelukkig is daar ook heelparty tonele waarin die oordrewe toneelspel ook meer aan die verhoog herinner en nie regtig vir die silwerdoek geskik is nie. Om nie eens te praat van die onnatuurlike “stem” en aflewering van Llewellyn Cordier as Father James nie. Daarteenoor slaan ʼn Suid-Afrikaanse veteraan soos Gérard Rudolf (in die rol van Marius se pa, Pieter) in sy beperkte lugtyd, ʼn uitklophou.
Behalwe vir die letterlike donker atmosfeer en minimalistiese dekor en liggings wat help om die kyker deurgaans vasgevang (of is dit eerder gevange) te hou in Marius se donker en deurmekaar wêreld, was daar nóg ‘n subtiele aspek van die film waarvan ek gehou het, maar sonder om te veel weg te gee gaan ek net ʼn leidraad los: let op die rooi en blou blokkieshemp. Prime probeer net ongelukkig om te veel simboliek en temas tegelyk te hanteer, en laat val dan al dié balle aan die einde.
Inligting
Ouderdomsbeperking
16
Akteurs
Richard Gau, Nomsa Twala, Jasmine Hazi, Michael Lawrence, Potter Sharon, Spiegel Wagner, Llewellyn Cordier, Gérard Rudolf
Sterre
1/5
Bruto Inkomste
0