Vra die kenner: ʼn Inleiding tot klankontwerp in rolprente | Bioskoop

Vra die kenner

ʼn Inleiding tot klankontwerp in rolprente

“Dís hoe Suid-Afrikaanse rolprente se klank afgeskeep word”

Riaan Bothma

Riaan Bothma

Artikel Skrywer

Profiel

Lees Meer

Een van die grootste klaagliedere wat by filmfeeste en filmgesprekke gehoor word, is hoe Suid-Afrikaanse rolprente se klank afgeskeep word. Juis om dié rede het ons ʼn film klankontwerp en klankbaankenner betrek om ʼn maandelikse rubriek oor rolprentklank te skryf. Tog is hierdie rubriek gemik op die leek – diegene van ons wat net rolprente kyk om dit te geniet, maar tog daarvan sou hou om effens meer van klank te weet (want andersins gaan maak ʼn mens maar koffie as hulle die klankkategorieë by toekenningsgeleenthede soos die Oscars aankondig. In hierdie artikel bespreek RIAAN BOTHMA (ʼn deeltydse dosent en meestersgraad student in klankontwerp) die onderskeie elemente van ʼn film-klankbaan. Kom ons stel Riaan nou aan die woord:

Hoekom is klank belangrik in ʼn rolprent?

Terwyl televisie en film tog ʼn oudiovisuele medium is, is klank, in my opninie een van die heel belangrikste komponente van film wat gereeld misgekyk word. Klank help om die kyker diep in die verhaal in te trek en skep dus ʼn visuele kontrak met die kyker.

Waaruit bestaan die klankontwerp-proses van ʼn rolprent?

ʼn Klankbaan bestaan uit drie hoofelemente: musiek, dialoog en byklanke. Die klankontwerp behels die ontwikkeling van die byklanke en dialoog van ʼn film.

Musiek word in rolprente gebruik om atmosfeer en emosie te skep. Dit dui ook die verloop van tyd en plek aan, skep kontras en help om insidente te voorspel. In strokiesprente en animasie word musiek in ʼn metaforiese manier gebruik, en die gebruik van musiekwyses om bewegings op die skerm te naboots, word isomorfisme genoem. ʼn Goeie voorbeeld van hierdie metaforiese klankgebruik kom in die geliefde Tom and Jerry strokiesprente voor.

Pierre Malan en Elrich Yssel het die klank opstel van die plaaslike speelfilm Wolf Wolf opgeneem.

Byklanke is ʼn effektiewe manier om narratiewe elemente soos tydsperiode, ligging en karakterontwikkeling te vestig. Byvoorbeeld, die geluid van beeste en skape dui op ‘n plaasomgewing; verkeer impliseer ‘n stedelike omgewing, brandalarms impliseer ʼn brand en ‘n tydperk in die geskiedenis word gereeld deur stoom-aangedrewe treine en die klanke van perdekarre gekenmerk.

Op ʼn rolprentstel hoor ʼn mens dikwels die woord “foley”. Wat is dit?

‘Foley’ klank is klank wat tydens na-produksie opgeneem word. Dit sluit klanke in soos: voetstappe, klereroes, papiervou, deure oopmaak, en glase wat breek. Dit is ook belangrik om die verskil tussen geraas en ‘agtergrond’ klank of omringende klank te ken. Omringende klank is die agtergrondklanke wat in ‘n toneel of omgewing voorkom. Omringende klank vir ʼn toneel kan tussen vyf en twintig gelaagde elemente hê om ‘n enkele atmosfeer in ʼn film te skep.

Is daar klanke wat ek in ʼn fliek kan hoor wat die karakters nie kan hoor nie?

Ja, in die film-klank konteks is daar sub-katogorieë van klank. Klank kan ook as diëgetiese- en nie-diëgetiese klank geklassifiseer word. In hierdie konteks verwys die term diëgeties na klank wat die film-karakters kan hoor. Nie-diëgetiese klank is klank wat net die kykers kan hoor. Dialoog is ʼn verbale uitruiling (of gesprek) deur karakters en is dus diëgeties. Maar indien ʼn verteller (of stem) wat nie op die skerm voorkom nie vir ons ʼn storie vertel (wat gereeld in Woody Allen se rolprente gebeur) word dit as nie-diëgetiese klank geklassifiseer.

Hoe weet ʼn kyker of ʼn fliek ʼn goeie klankbaan en gehalte klankontwerp het?

Of ʼn fliek se klankontwerp of klankbaan goed is of nie, bly in die meeste gevalle subjektief. Die kwaliteit van opnames en die kreatiewe toepassing van die bogenoemde klankbaan elemente speel wel ʼn sentrale rol in ʼn goeie rolprent klankbaan.

In die volgende artikel sal ek dít wat ʼn klankbaan ‘goed’ maak verder bespreek met voorbeelde uit die plaaslike rolprentbedryf.

Indien daar ʼn spesifieke rolprent se klankontwerp of klankbaan is wat jy wil hê Riaan moet bespreek, stuur vir ons ʼn e-pos na info@bioskoop.co Jy kan ook enige ander vrae oor die klank in jou gunsteling plaaslike of internasionale rolprente aan hom rig.

Kommentaar

kommentaar