Vaya – ’n Donker rit na ’n onbekende bestemming | Bioskoop

Vaya

’n Donker rit na ’n onbekende bestemming
Film

Film

Info

Regie: Akin Omotoso

Teks: Craig Freimond, Tshabalira Lebakeng, Anthony Mafela, David Majoka, Madoda Ntuli, Harriet Perlman en Robbie Thorpe

Met: Warren Masemola, Sihle Xaba, Harriet Manamela, Mncedisi Shabangu en Jabulani Mthembu

Tydsduur: 1h 50 min

Ouderdomsbeperking: 13

rififipictures.com

 

Gerhard Ehlers

Gerhard Ehlers

Artikel Skrywer

Gerhard Ehlers is ‘n passievolle filmmaker, en het al sedert sy skoolgaan jare die draaiboeke en regie van drie onafhanklike kortfilms behartig. Hy het sy B-Tech graad in Film en Televisie Produksie aan die Tswhane Universiteit van Tegnologie behaal waarna hy op ‘n verskeidenheid televisie en filmproduksies gewerk het as teksskrywer, assisitent regisseur en redigeerder.

 Lees Meer

Vaya volg drie mense se stories wat Johannesburg per trein binnery. Die eerste, is Xolani van KwaZulu-Natal, wie se ma hom stuur om sy pa se oorskot in die stad te gaan haal en terug te neem huis toe. Die tweede storie is dié van Zanele en klein Zodwa wat na haar suster, Thobeka, opsoek is. Laastens volg ons vir Madoda wat op uitnodiging van sy neef ’n werksgeleentheid in die stad kom opeis.

Wat die kyker in die openingskote opval is die manier waarop die regisseur elke raampie haarfyn beplan het. Die wye landskap en veral die lugskote van Johannesburg staan uit, en saam met die puik en eg (Suid-)Afrika-klankbaan word ’n sekere atmosfeer in die oomblik deur die kamera vasgevang.

Die karakters bring almal iets na die rolprent, maar dit is veral Zanele gespeel deur Zimkhitha Nyoka en haar alkoholis-suster, Thobeka, gespeel deur Nomonde Mbusi, wat die kollig omtrent vanaf die begintonele steel. Elke karakter bevind hom- of haarself in moeilike omstandighede en besef dat die stad van goud nie noodwendig die plek van melk en heuning is waarvan almal op die platteland sit en droom nie.

Die probleem met Vaya is dat die eerste bedryf vervelig raak en dat die drie stories nie lekker in mekaar vloei nie. As ’n mens kyk na hoeveel draaiboekskrywers aan die teks gewerk het, kan mens nie help om te wonder of die probleem dalk by die teks self lê nie. Die stokkerige ritme van veral die redigering pla tot en met die tweede bedryf wanneer ’n meer egalige en intuïtiewe redigeringstegniek toegepas word, en die stories gemakliker verweef raak.

Tegnies is Vaya van hoë gehalte. Die klankbaan, beligting en kamerawerk is ’n bewys dat die regisseur en sy span hulle beslis goed van hulle taak kan kwyt. Soms wonder ’n mens of die Nollywood se filmstyl tog maar ’n invloed op Akin se werk as regisseur het (hy is oorspronkilik van Nigerië), veral as ’n mens kyk na die atmosfeer en gevoel wat hy skep met die gebruik van spesifieke lokaliteite in en om Johannesburg. Daardie donker en bose onderwêreld van Johannesburg kom sterk en skokkend na vore in Vaya.

Vaya sukkel om momentum op te tel in die begin van sy speeltyd, maar wanneer hierdie drama en spanningbelaaide trein eers spoed optel, kan die kyker hom staal vir ’n donker avontuur na ’n onbekende bestemming.

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar