Stroomop – Diep, doelgerig en deurmekaar | Bioskoop

Stroomop

Diep, doelgerig en deurmekaar
Film

Film

Info

Regie: Ivan Botha Teks: Ivan Botha, Donnalee Roberts & Sean Robert Daniels Met: Donnalee Roberts; Simoné Nortmann; Chanelle de Jager; Ilse Klink; Carla Classen; Armand Aucamp stroomopfilm.co.za

J.W. Hurter

Artikel Skrywer

Profiel

 Lees Meer

’n Mens mag die fout maak as jy die name Donnalee Roberts en Ivan Botha sien om te dink dat Stroomop net nog ’n opvolg is op hulle driekuns wat met Pad na Jou hart en Vir Altyd begin het. Daar is ’n oorheersende kommersiële faktor wat die hoofrol in die meerderheid van Suid-Afrikaanse rolprente speel. Dit is ’n faktor wat kreatiwiteit en diepte kan onderdruk, maar tog pragtig en oppervlakkig op die silwerdoek flikker en ook tot ongelooflike sukses by die loket kan lei. Maar was hierdie faktor aan die stuur van Stroomop? Is dit net nóg ‘n fliek vir die massas? Of dra die produksie gewig?

Die gehoor ontmoet Dr. Lana Marais (Donnalee Roberts), ‘n ongevalle-chirurg wat duidelik te veel hooi op haar vurk het.  Sy word vriendelik gedwing om groepsberading by te woon na die afloop van gebeure waaroor die gehoor vir eers in die donker gelaat word. Uiteindelik, na die hardkoppige dokter haar trots opsy skuif, ontmoet sy ‘n groep vroue wat elk met hul eie letsels opgedaag het. Vivian (Simoné Nortmann) geniet ‘n glasie wyn soos ‘n peuter Oros geniet en Adrie (Chanelle de Jager) geniet Red Velvet kolwyntjies op dieselfde manier. Diona (Ilse Klink) is ‘n toegewyde prokureur en ongelukkig meer toegewyd aan die reg as aan haar familie, wat haar en haar dogter, Nixie (Carla Classen) se verhouding nóg moeiliker maak. Hulle besluit om op ‘n avontuur te gaan – dit is immers op die magtige Oranjerivier tussen die gloeiende berge van die Noord-Kaap waar mens gekonfronteer word met jou wese. Wat volg is ‘n warboel van avontuur, komedie, drama en samesyn toe die groep se planne skeefloop en hulle aan hulself, mekaar en die natuur uitgelewer word. ’n Warboel wat spartelend probeer om so boeiend soos Meryl Streep se The River Wild te wees, maar wat byna verdrink.

Stroomop se rolverdeling vul mekaar goed aan, maar die toewyding van De Jager en Nortmann onderskei hulle van die ander. Die vreesloosheid waarmee De Jager doelgerig haarself aan die rol onderwerp sorg dan ’n mens van die aktrise vergeet en net die karakter Adrie op die skerm sien. De Jager deel die kalklig met Nortmann, wat haarself weereens oortref met spel wat ongeëwenaar in haar generasie van Afrikaanse akteurs is. Die boeiende effek wat dié aktrises op die gehoor het, word egter telkemaal onderbreek deur ‘n tekort aan karakterverdieping en cliché redigering wat soms lomp oorkom.

As ’n geheel beloof die rolprent om ‘n wegholsukses te wees en Ivan Botha en Donnalee Roberts se seges tot dusver, verder te oortref. Dit bou op die suksesresep wat dié twee keer op keer behaal – met harde werk as hoofbestandeel. Alhoewel sekere klein tegniese aspekte van die film dit suggereer dat die vermoë of begroting te kort geskiet het, slaag die kinematograaf daarin om die pragtige landskappe op skerm vas te lê en die gehoor weg te voer sonder dat hulle op die tegniese leemtes kan let. Daar is wel indrukwekkende tegniese uitdagings wat met vlieënde vaandels oorkom is, soos die onderwaterskote met tuimelende, spartelende roeiers. Dit word egter weereens onderskep deur cliché klankredigering en voorspelbare musiek soos die liedjie, “You Are My Sunshine”. Die laasgenoemde liedjie word amper self ’n karakter in die fliek en lei sodoende die aandag van Lana as hoofkarakter af, aangesien dit eerder met die storielyn van die newekarakters te doen het. Die rolprent sou dalk beter gevloei het as só ’n lied aan die hoofkarakter verbind was – en moontlik ook eerder ’n Afrikaanse treffer was. Nie dat ek ’n patriot is nie, maar Laurika Rauch se stem wat bekende, koeseterende Afrikaans sing, sou soveel meer emosies ontlok het.

Die rolprent raak telkemale ’n bietjie oordadig met te veel versiersuiker en motiverende aanhalings, maar ek het begrip daarvoor, want dit is wat die deursnit Afrikaanse kyker wil hê. Stroomop se storie neem ook gans te lank om aan die gang te kom en verloor byna onmiddelik stoom.

Dit is noemenswaardig dat draaiboekskrywer Sean Robert Daniels se invloed as lid van die skryfspan ‘n byna tasbare verdieping in die kwaliteit van die produksie, asook die Afrikaanse filmgenre teweë gebring het. En dít is die verdieping waaraan die gehoor vir ‘n oomblik in Stroomop blootgestel word.

‘n Rolprent moet meer bereik as om net bevredigend vir kritici te wees. Dit moet tot positiewe verandering lei. Die rolprentspan agter die stuur van Stroomop slaag wel hierin, en sal met hierdie rolprent gehore inspireer om hulle eie letsels te ontbloot en sodoende die juk van huiwering, vrees en skaamte af te gooi. Hierdie verdieping saam met die doelgerigde momentum van die Stroomop-vervaardigers sal lei tot die onbetwisbare sukses van die fliek en sy maandelange teenwoordigheid in bioskope landswyd.

Bruto(ZAR)

Skerms

Kommentaar

kommentaar

Bitnami