Strikdas | Bioskoop

Strikdas

Vrede in die Lus vir die Lewe

Draaiboek: Etienne Fourie en Stefan Enslin

Regie: Stefan Nieuwoudt

Met:  Leandie du Randt, Kaz McFadden, Gys de Villiers, Elsabé Daneel, Albert Maritz en Susanne Beyers

Leandie du Randt blyk in elke tweede fliek vir 2014/2015 te wees. In Strikdas sien ons haar in nóg ‘n komedie, in dié geval speel sy ‘n narsissis wat die jong Vossie manipuleer om haar familie en eks-kys kwaad te maak.

Vossie is eintlik die interessante karakter in die film, en word lukraak en vars gespeel deur Kaz McFadden.

Click to accept cookies and enable this content

 

Die film begin waar Vossie se pa vir hom ‘n strikdas gee wanneer hy oppad is na die Universiteit van Stellenbosch om te gaan begin studeer – wat elke generasie vir ‘n Vorster seun gegee word. In plaas van manwording, het die strikdas ‘n ander tipe katalisator en stuur Vossie op ‘n avontuur wanneer hy vir Willemien (du Randt) ontmoet en deur haar misbruik word.

Die teks is vol clichés en alhoewel Vossie vreeslik “likeable” is, is daar glad nie vonke tussen enige van die karakters nie – behalwe dalk die vonke wat onder Willemien se ouma se kierie uitspat. Wat wel die skerm warm gemaak het, was die spel van die twee ouerpare – en dis eintlik jammer dat hulle nie tot hulle volle glorie kom in die film nie.

Alhoewel ‘n mens dalk sou dink die film oor studentelewe gaan en die soeke na self, is dit eintlik  meer van ‘n karakter-fokus op Vossie en sy vreemdheid. Daar is wel elemente van ‘n tipiese romantiese komedie wat – na aan die einde – die film goed afrond.  

Strikdas bied lekker onskuldige pret met ‘n morele les of twee vir dié wat nie al moeg is vir hierdie oorgedoende tipe storie nie.

Deur: Hein Scholtz

Volg Hein op Twitter of besoek sy webtuiste www.heinscholtz.co.za

Bitnami