Seun | Bioskoop

Seun

‘Seun’ – Meer As Net Nog ’n Oorlogfilm

Dee Theart
Fliek

Fliek

Info

Draaiboek en Regie: Darrell James Roodt

Met: Deànré Reiners, Chris de Clerq, Elzette Maarschalk, Candice Weber, Chanté Hinds en Johan Hanekom

www.karoofilms.com

Dee Theart

Dee Theart

Artikel Skrywer

Dee Theart is ’n veelsydige vermaaklikheids- en mediaslaaf. Haar kwalifikasies sluit ’n BDram-graad en ’n nagraadse kwalifikasie in Vertaling en Redigering in. Dee werk tans as MC by Silverstar Casino en Gold Reef Casino. Verder is sy is ook vryskut betrokke by RSG. Lees Meer

 

Slider_4

Die oomblik as ons die woord “oorlog” hoor, skram ons weg. Dis mos nie iets waaroor ons graag wil lees of praat nie; wat nog te sê ’n vollengte rolprent daaroor uit vrye wil te kyk? As dit die idee is wat jy tans oor die rolprent Seun het, wil ek jou sommer uit die staanspoor af gerus stel. Oorlog is allermins die kern van Darrell Roodt, Karoo Film Company en Times Media Films se nuutste rolprent. Dan wil ek ook ’n vroeë waarskuwing uitstuur: As jy so gelukkig is om nog nie Seun se voorskou onder oë te gehad het nie, móénie! Die voorskou behoort met ’n “spoiler alert” waarskuwing vertoon te word. Hierdie resensie gaan egter nie enige van die film se kritiese verwikkelinge weggee nie, so lees gerus voort.

Dis die jaar 1981. Apartheid seëvier in Suid-Afrika en manlike skoolverlaters word opgeroep om hulle verpligte nasionale diensplig tydens die Grensoorlog uit te dien. Dit is ook die geval vir die rolprent se hoofkarakter, Paul (vertolk deur Deànré Reiners). Paul se pa, Johannes (vertolk deur Chris de Clerq), is soos die meeste vaders van daardie tyd ten gunste van diensplig, want die oorlog maak mos mans van seuns. Paul se ma, Aletta (vertolk deur Elzette Maarschalk), is weer die tipiese moederhen wat nie die doel van diensplig vir jong seuns insien nie. Die film begin tydens Paul se Desember vakansie op sy ouers se plaas in die Karoo net nadat hy gematrikuleer het. Ons leer ken Paul as ’n ambisieuse, intelligente kind, wat ook weet hoe om pret te hê. Die meeste van sy vakansiepret sentreer rondom die tyd wat hy met sy liefdesbelangstelling, Anna-Marie (vertolk deur Candice Weber), deurbring. Die pragtige uitbeelding van die liefdesverhouding tussen die twee, laat die kyker glo dis ware liefde wat vlamvat. Eensklaps is die vakansie verby en Paul moet aanmeld vir sy diensplig. Dis tydens Paul se tyd op die Grens waar die drastiese wending in die rolprent plaasvind…

Slider_5

Seun handel grotendeels oor verskillende tipes verhoudings en die verwikkelinge binne hierdie verhoudings. Die verhouding tussen pa en seun, ma en seun, man en vrou en twee verliefdes, word suksesvol in die rolprent uitgebeeld. Elke karakter se persoonlike, emosionele reis sleur die gehoor mee en ’n hegte vertrouensband word sodoende tussen karakter en kyker verseker. Soos elke karakter se uitkyk op situasies verander en ontwikkel, vind botsings tussen karakters plaas, wat die kyker deurgaans boei.

Ek was lanklaas so tevrede met ’n rolprent se rolverdeling. Elke akteur se vertolking is heeltemal in die kol, met geen oomblik waar die geloofwaardigheid betwyfel kan word nie. Daar is wel oomblikke waar die karakters se besluite en motiewe bevraagteken mag word, maar dit dui juis op die rolprent se geslaagdheid: as ’n mens die karakter glo, maar nie sy/haar aksies kan glo nie. Nuwelinge op die grootskerm, Reiners en Weber, het hulle goed van hulle taak gekwyt. Dis nie ’n verrassing dat Reiners die 2014 Silwerskermfees Gehoortoekenning vir die Beste Akteur in ’n Hoofrol ingepalm het nie. Sy toneelspel bestaan uit fyn nuanses en sy emosionele vertolking met sy oë is merkwaardig. Weber se vertolking as ’n 16-jarige verliefde meisie wat besluite ver bo haar jare moet neem, is aangrypend.

Slider_2

Dis heerlik om weer vir Maarschalk en De Clerq op die grootskerm te sien. Die kyker voel gerus in hulle ervare toneelspel hande. Beide wys ’n eerlike diepte wat net virtuose akteurs kan weergee. Die karakter Anna-Marie se ouerpaar (vertolk deur Chanté Hinds en Johan Hanekom) gee ‘n ander dimensie van ouerskap weer en veral Hinds skitter in haar rol. Edwin Gagiono as die karakter Marius en Janus Prinsloo as die Korporaal in die oorlog, het hulle rolle ook met oortuiging vertolk. Dit blyk asof Roodt werklik weet hoe om die beste uit sy akteurs te haal.

Die rolprent se kinematografie (deur William Collinson), redigering (deur Byron Davies) en musiek/klankbaan (deur Ivan Milborrow, Coert Visagie en Geo Höhn) verdien spesiale vermelding. Elke filmskoot van die Karoo, sowel as die oorlog, dra by tot die rolprent se trefkrag. Fyn aandag is aan die beligting gegee en lewer ’n groot bydra tot die prentjiemooi skote. Die sameflansing van tonele is met oorleg aangepak. Die musiek (nuut gekomponeer, sowel as reeds bestaande snitte) is merkbaar fyn uitgekies vir die rolprent – veral die gebruik van Sonja Herholdt se ‘Ek Verlang Na Jou’ roer die hartsnare.

Slider_3

Roodt het weereens ’n topklas plaaslike rolprent beet. Seun is ’n storie met vleis waarmee oud en jonk sal kan identifiseer en empatiseer. Ek vermoed ’n internasionale gehoor gaan ook kan aanklank vind. Wie weet, dalk is daar nog ’n Oscar-benoeming wat op Roodt wag… Moenie vir die DVD wag vir hierdie een nie – dis elke pennie werd.

Seun is vanaf Vrydag, 12 Junie 2015, in teaters te sien.

Volg Dee Theart op Twitter

Bruto(ZAR)

Skerms

Bitnami