Oscars 2018 – Deur die kristalbal | Bioskoop

Oscars 2018

Deur die kristalbal
Film

Film

Info

Datum: 5 Maart 2018

Tyd: 03:00

Aanbieder: Jimmy Kimmel

Plek: Dolby Theatre in Hollywood, Los Angeles, California, VSA

oscars.org

Martie Bester

Martie Bester

Artikel Skrywer

Lees Meer

Uiteindelik is die Oscars hier na ’n pynlike jaar van onthullings en beskuldigings. So tussendeur die skande, skandale en oopvlekkery, het almal byna tydens die baklei om die sappigste been heen ‘vergeet’ van ’n groot, magtige fliek wat stadig sy verskyning begin maak het en geledeilik al die ander aanspraakmakers begin onttroon het.

Hierdie fliek is inklusief, divers, eerlik, brutaal, rou, ontnugterend, bevrydend. Hierdie rolprent basuin uit hoeveel krag daar in film lê wanneer dit reg, oordeelkundig en absoluut vreesloos aangewend word.

Indien daar ’n Oscar-God bestaan, sal al die hindernisse wat in hierdie film se gloriepad geplaas is, onsuksesvol wees en gaan Three Billboards Outside Ebbing, Missouri die Oscar vir Beste Film op 4 Maart 2018 verower.

Daar was byna ’n ‘trigger-happy’ gevoel aan hierdie jaar se nominasieresies. Die gegil dat die verwesenliking van ’n droom oornag moet plaasvind, het baie hard keel opgesit.

Die Oscar-voorspellings is hierdie jaar moeiliker as gewoonlik met al die drama van die skerm af, maar mens hoop dat, soos in 2010 toe The Hurt Locker vir Avatar stof in die oë geskop het, geregtigheid sal seëvier en die beste film die goue beeldjie gaan ontvang.

Beste Film

Wie moet wen: Three Billboards Outside Ebbing, Missouri

Daar bestaan nie genoeg byvoeglike naamwoorde in die heelal om die krag van hierdie rolprent oor braafheid, onregverdigheid, verlossing, hartseer, aanvaarding, die mag van die liefde, genade, ‘redemption’ en vergifnis te beskryf nie. Die skrywer en regisseur Martin McDonagh vang die vele aspekte van die ingewikkeldheid van ’n wêreld, ’n land, ’n samelewing, ’n volk, ’n ma, ’n vrou, ’n man, ’n pa, ’n seun, ’n dogter, ’n eggenoot, net ’n mens so meesterlik in hierdie film vas dat dit nie voel of dit werklik kan wees nie. Ek het hierdie kragtige verwewing nog nooit so suksesvol in ’n film gesien of gevoel nie.

As Three Billboards Outside Ebbing, Missouri nie as die beste film aangewys word nie, is Mildred Hayes (vertolk deur Frances McDormand) se woorde in een van die hartroerendste oomblikke in hierdie film waar: “Because there ain’t no God and the whole world’s empty and it doesn’t matter what we do to each other”.

Wie kan wen: The Shape of Water: Guillermo del Torro bring ’n ongelooflike pragtige feeverhaal na die skerm toe – en omdat daar soveel onnodige ‘infighting’ is oor die ‘verdelende aard’ van Three Billboards Outside Ebbing, Missouri kan The Shape of Water as die bemiddelaar beskou word. The Shape of Water is beeldskoon, maar ons leef in die ontnugterende werklikheid en nou, juis nou, moet die uitbeelding daarvan vereer word.

Beste regisseur

Wie moet wen: Martin McDonagh

Wag. Hy is nie genomineer nie. Hoe het dit gebeur? Hoe durf ’n buitelander die mes diep in Amerika se vetrolle druk en die murg van die hartland uitkerf en dit stadig uitryg en stukkie vir stukkie aan ’n honger gehoor voer? Hoe durf iemand van ’n ander kontinent dieper in Amerika se psige kyk as wat enige van hulle eie storievertellers kan? Hoekom is hy nie genomineer nie? Want hy sou MOES wen.

Wie gaan wen: Guillermo del Torro. Hy verdien vanuit diegene wat wel genomineer is om die eerste plek te kry vir sy wonderlike, foutlose aanvoeling vir die menslike bestaan, sy uitdrukking van die geweldige pyn, maar geweldige krag, van anders wees, en ook die manier waarop hy die regie van The Shape of Water soos ’n simfonie behartig.

Paul Thomas Anderson is regtig die enigste ander aanspraakmaker in hierdie kategorie, maar ongelukkig is hy benoem vir sy swakste rolprent in sy roemryke loopbaan. The Phantom Thread beklee tragies genoeg die plek van ’n stukkie afskietmateriaal wat nie die briljante akteur Daniel Day-Lewis se laaste buiging waardig is nie.

Beste aktrise

Wie moet wen: Frances McDormand

Want daar bestaan in 2018 nie werklik STERK vrouerolle in film nie en McDormand se vertolking van Mildred Hayes is een van die sterkste vrouerolle  in die geskiedenis van rolprente. McDormand blik of bloos nie in hierdie uitdagende en veeleisende rol nie – sy IS Mildred. McDormand met haar gesig van ’n duisend uitdrukkings is die verpersoonliking van die magtige veldtog dat vroue vereer moet word omdat hulle vroue is – en nie eendimensionele stereotipes nie.

McDormand se rol beklemtoon dat vroue verdien om beter rolle te vertolk; hulle verdien om meer te wees as die romantiese stukkie, die verleidster, die samesweerder, die lostongskinderbek, die bitsige teef, die spookasemkoppies, die ‘buddy-buddy’ vriendinne.

Beste akteur

Wie moet wen: Gary Oldman

As dit van hom ’n fisieke transformasie moes vereis om die beeldjie te wen, dan moet dit die geval wees. Oldman het ’n loopbaan waarvan min akteurs eers van kan droom, maar weens oneweredige treffers is sy ster telkemale geblus. Die man het elke dag ses ure in die grimeerstoel deurgebring om soos die swaargesig bulhond-agtige Churchill te lyk. Net daarvoor verdien hierdie skerpsinnige akteur tien Oscars.

Beste ondersteunde aktrise

Wie moet wen: Allison Janney

Hoewel hierdie nie een van haar beste rolle is nie, het sy nie veel kompetisie nie. Janney is geloofwaardig-rig as die stomme Tonya Harding se ‘afskuwelike’ ma, hoewel mens nie kan help om te dink dat sy nie ook oorbluf is deur haar skielike glorie nie.

Beste ondersteunde akteur

Wie moet wen: Sam Rockwell

Rockwell skitter in ’n afskuwelike rol wat hy so goed vertolk dat dit die verstand te bowe gaan. As ’n figuur wat aanvanklik geen genade en begrip verdien nie, ondergaan sy karakter so ’n totale geloofwaardige metamorfose dat die man al die toekennings in die wêreld verdien. Rockwell maak van ’n gehate en verpeste karakter een waarvoor ’n mens verskriklik, verskriklik lief word.

Wie kan wen: Woody Harrelson

As ’n mens in drome glo, kan hy die grootste verrassing van die aand wees.

Beste oorspronklike draaiboek

Wie moet wen: Three Billboards Outside Ebbing, Missouri deur Martin McDonagh

Want die Oscar-paneel kan hulself eenvoudig nie weer so ooglopend verraai en die beste draaiboek van die jaar ignoreer nie. Martin McDonagh is een van die mees ‘evolved’ draaiboekskrywers in die industrie en is onstuitbaar in sy waarnemingsermoë en vertolking van die alledaagse wat altyd veel vreemder as enige fiktiewe weergawe is. Hy durf waar min skrywers durf – hy aarsel nie om die hart oop te kloof en te ontleed en die bloed en derms en binnegoed van die werklikheid te ontbloot nie. Hy skryf soos wat die gode die mens bestem het om te skryf.

Beste Aangepaste Draaiboek

Wie moet wen: Call Me By Your Name deur James Ivory, Luca Guadagnino en Walter Fasano

Call Me By Your Name verdien hierdie toekenning nie net omdat dit baanbrekerswerk doen nie, maar ook omdat die hoofskrywer, James Ivory, deur die dekades heen werk lewer wat altyd vars, nuut en kragtig is. Hy gee lewe aan hierdie unieke liefdesverhaal wat grense verskuif en die hart ontroer, die siel laat sing.

Wie kan wen: Molly’s Game bloot omdat Sorkin ingewikkelde lewensverhale so oortuigend in twee ure kan vasvang dat dit bloot ’n wonderwerk is.

Beste Klankbaan: The Shape of Water deur Alexandre Desplat

Beste Oorspronklike Lied: “This Is Me” uit The Greatest Showman

*Hierdie artikel weerspieël nie noodwendig Bioskoop se sienings nie, maar wel die van die skrywer.

Kommentaar

kommentaar