Noem My Skollie: Treffende verhaal oor verlossing | Bioskoop

Noem My Skollie: Treffende verhaal oor verlossing

Hartroerende film gaan nie in almal se smaak val nie
Film

Film

Info

Regie: Daryne Joshua

Met: Dann-Jaques Mouton, Gantane Kusch, Austin Rose, Peter Butler, Hemelbesem, Oscar Peterson, Tarryn Wyngaard

www.skollie.co.za

Martie Bester

Martie Bester

Artikel Skrywer

Lees Meer

Click to accept cookies and enable this content

Die nuwe Suid-Afrikaanse film, Noem My Skollie, neem kykers terug na die lewe op die Kaapse Vlakte in die jare sestigs en beeld hierdie kleurvolle en interessante tydperk in ’n woonplek met ’n vlymskerp ingewande waarin genadelose bendes woed doeltreffend uit.

Dit is opvallend hoe goed hierdie rolprent, wat op ’n baie beperkte begroting verfilm is, lewe verleen aan die Kaapse Vlakte tydens hierdie reis terug in tyd. ’n Tyd waarin John W Fredericks, die draaiboekskrywer van hierdie aangrypende rolprent grootgeword het, en op wie se lewe hierdie film deels gebaseer is.

Die jong Abraham of AB (goed vertolk deur Austin Rose) is ’n pligsgetroue tiener wat nie deel wil word van die bendegemeenskap waarin hy hom bevind nie en alles in sy vermoë doen om nie betrokke te raak by die ongure lewens van die mense om hom nie. Hy het planne om van die Vlakte te ontsnap, maar sy lewe verander wanneer hy wreed aangeval word in ’n afgryslike toneel wat een van die ontstellendste uitbeeldings is wat ek nóg op die grootskerm gesien het.

Hierdie voorval lei daartoe dat Skollie (soos AB bekend staan) en sy drie beste vriende Gimba (Ethan Patton), Gif (Joshua Vraagom) en Shorty (Valentino de Klerk) ’n baie hegte band vorm en wat hul noop om hul eie bende stig om hulself te beskerm teen die vyand wat oral om hulle is. Dié vier word soos broers in ’n outentieke Kaapse Vlakte-weergawe van die klassieke film, Stand By Me. Hulle raak betrokke in lewensgevaarlike situasies, en die Vlakte is ongenaakbaar. Oorlewing word ’n daaglikse stryd waartydens hulle veral hul onskuld prysgee.

Die uitbeelding van die bendelewe op die Kaapse Vlakte, soos vertel in die draaiboek is waarskynlik ’n akkurate weerspieëling van omstandighede, maar hier skiet die fliek te kort omdat dit van die filmmakers verg om te kies op watter aspek hulle wil fokus – dit moet óf ’n bendefliek óf ’n tronkdrama wees. En Noem My Skollie is te ambisieus wanneer dit hierdie twee genres kombineer.

Die mees tergende aspekte wat verlore gaan, is karakterisering en gehoor-identifisering. Ek dink aan die briljante Gangs of New York deur veteraan-regisseur en storieverteller Martin Scorsese wat daardie balans tot ’n kuns verfyn het in dié fliek waarin Daniel Day-Lewis ’n bloedstollende vertolking as The Butcher met sy afskuwelike henchmen gelewer het. Tog was dit nie net ’n vyandige omgewing nie en het die spel van ander akteurs soos Jim Broadbent, John C. Reilly, Brendan Gleeson en Liam Neeson as empatiese figure noodsaaklike verligting aan hierdie film verleen en vir afwisseling gesorg wat gehore ’n blaaskans van die gewelddadige uitbeeldings op die skerm gegee het. Anders as in Noem My Skollie.

Vir ’n fliek soos Noem My Skollie wat gewigtige kwessies aanpak om werklik geslaagd te wees, moet daar een baie belangrike bestanddeel wees: humor. En dit ontbreek deurentyd. In Gangs of New York word The Butcher telkens as ’n nar uitgebeeld om afwisseling en ruimte vir asemhaal aan die kyker te bied, maar in Noem My Skollie veroorsaak die gebrek aan humor dat die gehoor deurlopend met swaarkry en lyding gekonfronteer word. En daarom stap ’n mens uitgeput uit hierdie fliek uit en het jy suurstof nodig wanneer dit wel tot ’n einde kom.

Dit is wanneer die groep vriende in Noem My Skollie die transformasie na jong volwassenes maak dat die tronkverhaal aangepak word en hier verloor die film die outentieke aard van sy storielyn. Die film se sterkste boodskap, dié van Skollie wat kies om ’n storieverteller in die tronk te word om so sy aansien te verhoog, val effens plat en die vertel van AB se verhale word sekondêr ten spyte daarvan dat dit juis swaartekrag aan die film moet verleen.  

Die ouer AB, vertolk deur die nuweling Dann-Jacques Mouton, wat met sy eerste verskyning en aan die einde van die film ’n charismatiese kant aan sy karakter verleen, verloor sy fokus wanneer die film se boodskap verskuif na ’n draaiboek wat skielik as te self-indulgent oorkom. En die vyandigheid van AB se mede-gevangenes laat ’n mens moeilik sluk aan die geslaagdheid van sy vertellings. Die sukses van tronkrolprente soos The Shawshank Redemption en The Green Mile lê juis in die feit dat, afgesien van die wrede werklikheid waarin karakters hul bevind, daar kameraadskap is en vriendskappe gevleg word tussen onwaarskynlike bannelinge.

Afgesien hiervan het die toegewyde vervaardiger David Max Brown en die debuut-regisseur Daryne Joshua hierdie rolprent met soveel waagmoed aangepak dat dit nie regverdig sal wees om nie weer en weer te beaam dat hul die onmoonlike vermag het met ’n skamele begroting nie (met slegs R1.2 miljoen wat deur die NFVF aan die film geskenk is). Veral die naproduksie-span lewer werk van uitsonderlike gehalte en moet hul uitgesonder word vir hul bydra tot hierdie film.

Wanneer Skollie uiteindelik vrygelaat word, smag hy meer as ooit daarna om sy droom as skrywer te verwesenlik en maak die liefde van hom ’n man wat gereed is om sy lewe van eindelose herhaling vaarwel te roep. Maar dan word hy vir oulaas gevra om betrokke te raak by ’n skynbaar onskuldige misdaad, met verreikende gevolge vir die vriendekring.

Een van die bekoorlikste aspekte van Noem My Skollie is dat die Afrikaans wat gepraat word ’n taal eie aan die Kaapse Vlakte is, wat ook uitstekend uitgebeeld is in regisseur Ian Gabriel se film, Four Corners. Dit is egter eers in die laaste derde van die rolprent wat Mouton waarlik tot sy reg kom en die woorde wat Fredericks so mooi vir hierdie karakter skenk deur ’n mens se gemoed weergalm en ’n blywende indruk maak.

Maar, met ’n ouderdomsbeperking van 16 weens dwelmmisbruik, seks, geweld en swak taal, is hierdie film myns insiens nie toeganklik vir baie potensiële kykers nie en sluit dit waarskynlik ’n jonger teikengehoor uit wat baie daarby kon baat om hierdie fliek te kon sien wanneer hulle so maklik slagoffers kan word van hul uitdagende omstandighede.

Die film is visueel oortuigend, maar om byna drie ure na ’n fliek te kyk wat ’n mens aan flarde ruk, vereis te veel van gehore wat nie van ‘kuns’-rolprente hou nie. Die film gaan sukkel om die baie noodsaaklike gaping tussen arthouse en dit wat by meeste gehore byval vind te oorbrug.

Noem My Skollie, ’n heldhaftige poging en ’n nuwe aanslag tot plaaslike rolprente, wys vanaf 2 September 2016 landswyd in Suid-Afrika en word deur Ster-Kinekor Entertainment uitgereik.

Click to accept cookies and enable this content

Bruto(ZAR)

Skerms

Bitnami