Khumba | Bioskoop

Khumba

'n Eerste vir Afrikaans in 3D

Draaiboek:  Anthony Silverston, Raffaella Delle Donne en Jonathan Roberts

Regie:  Anthony Silverston

Met:  Hannes Brümmer, Lochner de Kock, Rika Sennett, Elsabé Zietsman, Richard van der Westhuizen, Ben Kruger, Frank Opperman, Denver Vraagom en Bettie Kemp

Khumba is een van die eerste Suid-Afrikaanse rekenaar-animasie rolprente wat internasionaal verspreid is, en is deur die span agter Adventures in Zambezia, Triggerfish Studios, vervaardig. Met die reuse sukses van die vorige film, wat meer as US$28 miljoen wêreldwyd gemaak het, is die druk groot gewees vir Khumba om net so ‘n sukses van homself te maak. 

Click to accept cookies and enable this content

 

Dit vertel die verhaal van Khumba, ‘n sebra wat gebore is sonder strepe op die agterkant van sy rug, en so begin die doemprofete in die trop hom beskuldig dat hy ‘n ongeluk is. Sowaar droog hul watergat uit en so begin Khumba se avontuur om water vir sy trop te vind – en (groot verrassing) homself in die proses.

Met bekende stemme (alhoewel uitheemse aksente) soos dié van Laurence Fishburne, Loretta Divine en Liam Neeson, beloof die fliek om ‘n gehoor gerus te stel met gesoute akteurstemme wat weet hoe om met infleksie en toon, gesag en gevoel oor te dra. Gelukkig slaag dié. 

Wat ongelukkig nie slaag nie, is die swak storievertelling. Ja, daar is oulike karakters, soos die meerkatte, die dassies (lyk my daar is nou altyd ‘n klein oulike diertjie vir “comic relief” in animasies, soos die pikkewyne van Madagascar). Maar die storie is oordoen, en die karakterisering is oudmodies en stereotipies. 

Die beweegende animasie is nie die beste wat al ooit op die silwerdoek verskyn het nie, alhoewel die agtergronde regtig mooi gedoen is en “majestic” voorkom. Die musiek is wel ‘n hoogtepunt, en word goed gebruik in elke toneel, en dit help om die Amerikaanse aksente te versag. Dit speel mos in Afrika af. 

Vir ‘n Suid-Afrikaanse poging vir ‘n animasie film, is dit eintlik redelik goed. Gaan kyk gerus en verbly jouself in die feit dat jy ‘n baie belangrike impak maak op die filmindustrie in Suid-Afrika. Maar kyk dit saam met ‘n jong niggie of nefie of met jou eie jong kinders, want daar is nie genoeg op die been van die film om ‘n grootmens wat so-so oor animasie voel, se belangstelling en aandag te hou nie. 

Deur: Hein Scholtz

Volg Hein op Twitter of besoek sy webtuiste www.heinscholtz.co.za

Bitnami