Johannesburg: Die stad en sy struggle | Bioskoop

Johannesburg: Die stad en sy struggle

Lieza Louw se dokumentêr beeld 30 jaar later dié stryd uit

Die dokumentêre rolprentmaker en Wits dosent Lieza Louw se dokumentêr like shooting Sardines in a Barrel is een van die openingsrolprente van die Jozi Film Festival. Die vertoning is heel gepas, aangesien die fliek tussen 1957 en 1987 in Johannesburg afspeel – en dus volgens Louw bydra tot die geskiedenis en ethos van dié stad. ANNA-MARIE JANSEN VAN VUUREN het met Louw gepraat oor die fliek en hoe sy self ook met haar stryd en liefde vir die stad gewoeker het.

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Anna-Marie Jansen van Vuuren

Artikel Skrywer

Anna-Marie Jansen van Vuuren is ‘n dosent by die Departement van Joernalistiek, Film en Televisie by die Universiteit van Johannesburg. Sy is sedert Desember 2006 ‘n vryskut joernalis vir MonitorSpektrum en Naweek-Aktueel, die nuusaktualiteitsprogramme van RSG (SAUK Radio). Sy behaal in 2016 haar PhD-graad in Kreatiewe Skryfwerk – Draaiboekskryf, met spesialisering in geskiedkundige rolprente, by die Universiteit van Pretoria.

Lees Meer

1. Dis dertig jaar sedert die gebeure van die dokumentêr afgespeel het. Hoekom was dit nou volgens jou die gepasde tyd om die storie te vertel? 

Die gebrek aan ‘n publieke uitsaaier in Suid-Afrika voor 1976, die talle buitelandse joernaliste in Johannesburg en die streng sensuurwette in Suid-Afrika het veroorsaak dat heelwat materiaal nooit uitgesaai is nie. Baie deelnemers het ook genoem dat niemand hulle nog ooit oor die protes-aksie uitgevra het nie. Die film vul dus ook die bestaande argiefmateriaal van daardie tyd aan deur ‘n stem te gee aan studente-aktiviste gekombineer met filmmateriaal uit die argiewe.

2. Wat is een van die interessantste ontdekkings wat jy gemaak het tydens die navorsing/verfilmingsproses.

Die film self was ‘n ontdekkingsreis – die werk het as ‘n navorsingsprojek met baie beperkte befondsing begin en my benadering het dus verskil van hoe ek ander dokumentêre films sou aangepak het. Ek het wonderlike mense ontmoet en die ure wat ek bestee het om deur argiefmateriaal te kyk en so die geskiedenis in beeld te herleef, was insiggewend.

As ek terugdink aan die protesaksiepatrone van die anti-apartheidsjare en die eietydse ‘Fees Must Fall’-gedrag is daar beslis ‘n ooreenkom. Die verskil is net: Al teiken albei groepe eintlik die regering, word die universiteite nou geknou deur brandstigting, ensovoorts.

Befondsing van die National Film and Video Foundation het gehelp om nog onderhoude te verfilm, die film weer te redigeer, en vir die argiefmateriaal te betaal. Redigeerder Sharron Hawkes het ‘n groot bydrae tot die nuwe weergawe gemaak.

3. Vertel ons bietjie van jou agtergrond – Watter invloed het dit op like shooting Sardines in a Barrel gehad?

Die regering het skerp opgetree teen die Nusas(National Students Union of South Africa) leiers in die vroeë sewentigerjare. Geoff Budlender was ons studenteraadsvoorsitter en ek onthou die swart roubandjie om sy baadjiemou, die gewelddadige polisieoptrede by die St. George-katedraal aan die bopunt van Adderleystraat en die universiteit se haastige ‘private property’-borde op al die kampusse om so polisietoegang te beperk. Jare later protesteer ons weer by Wits, eers teen die xenofobie in Suid-Afrika, en dan weer teen die weiering van ‘n visum vir die Dalai Lama. Dis ironies dat ons daardie tyd al gewonder het of studente ‘n platform het om hul griewe te lug …

4. Hoe sal jy die Suid-Afrikaanse dokumentere filmbedryf wil sien groei of verander oor die volgende paar jaar?

Ek glo soos talle ander aan die bekende Chileense filmmaker Patricio Guzmann se stelling dat ʼn ‘country without documentary films is like a family without a photo album with family photos’.

Aangesien daar deesdae ook ʼn vervlakking in nuusdekking gekom het, het die belangrike rol van dokumentêre films weer sterk na vore getree. Michael Chanan (2007) skryf dat die nuwe golf dokkies politieke aangeleenthede aanspreek waar daar misbruik van mag op sigbare en/of onsigbare vlakke, en die onderdrukking van menseregte is.

Ek hoop dus dat die SABC en alle ander Suid-Afrikaanse uitsaaikanale meer dokumentêre films sal befonds en aan die publiek vertoon. Uiteraard sal die heersende politieke ideologie ʼn impak op die tema’s en inhoud hê, maar gelukkig word die meer polities-geörienteerde films deur onafhanklike vervaardigers gemaak. Dus is daar ook ‘n behoefde vir die befondsing van hierdie soort films.

Die dokumentêr like shooting Sardines in a Barrel word Saterdag 23 September om 12 uur die middag by Rosebank Mall Cinema Nouveau vertoon.

Volg die skakel http://www.jozifilmfestival.com/ vir die volledige Jozi Filmfees program.

 

Kommentaar

kommentaar