Internasionale kortfilm-kompetisie voorwaar ’n wedloop teen tyd. | Bioskoop

Internasionale kortfilm-kompetisie voorwaar ’n wedloop teen tyd.

Vandaar sal 12 films gekies word om in die “Short Film Corner” by die Cannes Internasionale Filmfees vertoon te word.

Roelof Bezuidenhout

Roelof Bezuidenhout

Artikel Skrywer

Roelof Bezuidenhout is ‘n voormalige Kwêla redigeerder en regisseur wat tans die Akademiese Bestuurder vir Televisie, Radio en Klank by die Boston Media House-groep is. Hy het sy Honneursgraad in Bedryfskommunikasiekunde aan die Noordwes-Univeristeit behaal, waarna hy as kameraman-regisseur op programme soos AgriTV, TourismBIZ, en Ulimo (SABC 2 en 3) gewerk het.

Lees Meer

Die Johannesburg-been van die 48 Hour Film Project (48HFP vir kort) het hierdie jaar tydens die naweek van 22-24 September 2017 plaasgevind. Hierdie kompetisie behels dat kortfilms van tussen vier en sewe minute geskryf, geskiet, verwerk en teen ’n sekere spertyd ingehandig word. Mense van alle ouderdomme en vaardigheidsvlakke mag deelneem.

Die verrigtinge het amptelik die Vrydagaand by Mall of Africa afgeskop waar genres deur elk van die spanleiers getrek is. Daarna is die verpligte karakter, objek en dialooglyn wat in elke film moes voorkom, bekendgemaak.

Natalie Delport, Johannesburgse vervaardiger van die projek, het aangedui dat vanuit die 70 spanne wat ingeskryf het, het 59 hulle films teen die Sondagaand ingehandig, waarvan slegs 45 dit binne die amptelike 48 uur kon regkry. Dus kon slegs hierdie 45 spanne vir die toekennings kwalifiseer, wat op Sondag, 15 Oktober, by The Fringe van die Joburg Theatre gehou is. Bekendes in die bedryf het as beoordelaars opgetree en het Eileen Sandrock, Hoof Uitvoerende Beampte van Sasani Studios; Charles Bengis, Voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Kinematograwe; Keshni Rajoo; Inhoudshoof by Red Pepper Pictures; Natasje van Niekerk, Hoof van The Storyteller Pod en $teve Matic  (oftewel Stephan Delport), gepubliseerde musiekvervaardiger, ingesluit.

Die algehele wenner hierdie jaar was die film Death by the Glass deur PicMo Productions. Hierdie span, onder leiding van Nqobile Shoba, kry nou die geleentheid om volgende jaar aan die Filmapalooza kompetisie in Cannes, Frankryk, op die wêreldverhoog met die wenners van nagenoeg 100 ander stede mee te ding. Vandaar sal 12 films gekies word om in die “Short Film Corner” by die Cannes Internasionale Filmfees vertoon te word.

The House Always Wins deur Screen Vaders van die Nasionale Skool van die Kunste (NSA), en The Milk Man deur Purple Thunderliscious van Wits, het onderskeidelik met die beste pryse vir Beste Studente Inskrywing – Sekondêr en Beste Studente Inskrywing – Tersiêr, weggeloop.

Vir meer inligting oor die wenners, wenfilms en kompetisie, besoek gerus www.48hourfilm.com/Johannesburg en http://www.48hourfilm.com/johannesburg-za.

Kommentaar

kommentaar