Herfs in Parys | Bioskoop

Herfs in Parys

Dink net…herfs in die stad van drome

Deur: HGA Ehlers

Regie: Paul Kruger

Met: Lika Berning, Thierry Ballarin, Deon Lotz, Paul du Toit en Helene Lombard

Click to accept cookies and enable this content

 

Dink net. Jy bevind jouself iewers op ‘n hoekkafee en bederf jou sintuie tot in die oortreffende trap. Jy ruik die geur van varsgebakte croissants en vuurwarm filterkoffie, terwyl jy uitstaar oor ‘n stad wat triomfantlik uit toring by enigeen wat al ooit na iets meer gehunker, of ‘n lewensveranderende droom gekoester het.

‘n Stad in al haar glorie. ‘n Egte stad, gebou op verleiding, verlusting, dagdroom en fantasie. PARYS.

Paul Kruger is terug met sy nuutste rolprent, French Toast, na die sukses van Liefling (2010) en Pretville (2013). In sy nuutste rolprent verweef hy dié einste droomstad met die idiliese wynplaasryke, Stellenbosch. Soos die titel suggereer, is die “saamsmelt” proses ‘n aangename een. Een waaraan smulpape hulle moontlik kan verlustig in ‘n tradisionele resep so in die eeu-oue Euro-Afrikaanse sin.

Die rolprent maak oop met ‘n toneel waar french toast gemaak word. Elke handbeweging en hantering van die bestanddele word sagkuns, verleidelik en met ‘n kreatiewe presisie uitgebeeld. Ek kon in hierdie openingstoneel nie help om die filmproses met dié van ‘n bakresep te vergelyk nie, met elke bestandeel wat elke kritiese element van die filmmaak proses verteenwoordig.

Wat my by die groot vraag en die punt van enige waardige filmresensie bring: Hoe het French Toast gesmaak?

Eers die storie…

FT Slide8

Die storie draai om Lise le Roux, wat soos verwag kan word, met ‘n natuurlike instink deur Lika Berning vertolk word. Lise woon saam met haar pa (wat uitstekend deur Deon Lotz gespeel word) op hul spog wynplaas buite Stellenbosch. Lise is ‘n beheervraat en hou van orde in en om haar lewe. Die enigste deel in haar lewe wat van vryheid en uitdaging spreek, is haar liefde en passie vir fotografie.

Sy staan op die punt om met Theo (gespeel deur Paul du toit), haar pa se regterhand en opkomende wynmaker van die area, te trou. Lise en haar pa woon alleen. Haar ma is oorlede en die leemte wat sy agter gelaat het, is een wat haar pa vermy en stil-stil bepeins. Die enigste nalatenskap wat Lise wel van haar ma het, is ‘n ou tradisionele familieresep vir… ja, jy het reg geraai… french toast.

Soos enige pa-dogter verhouding behoort te wees, is dié een tussen Lise en haar pa deernisvol, maar nie sonder onderliggende konflik nie. Haar pa is al ‘n geruime tyd in ‘n verhouding met ‘n bekende tydskrif redaktrise wat oortuigend deur Helene Lombard vertolk word. 

Lise sit met ‘n dilemma: Sy weet dat haar ma se dood haar pa terughou, en sy weet dat wanneer sy eers met Theo trou, haar pa agter gelaat gaan word. Lise besluit om op die ingewing van die oomblik om na Parys te reis, nadat sy ‘n familiegeheim in haar oorlede ma se dagboek ontdek.

Die ware avontuur begin wanneer sy Jean-Pierre Baptiste in Parys ontmoet. Jean-Pierre het ‘n oog vir Lise en stem in om haar te help om die geheim te ontrafel, indien sy foto’s vir sy nuwe kookboek sal neem.

FT Slide7

Die probleem met hierdie blommende liefde, is dat die kyker nooit werklik in hierdie liefde glo nie. Die romanse kom effens styf en geforseerd voor. Alhoewel beide Lika Berning en die Fransman Thierry Ballarin in eie reg goed speel, is daar steeds nie ‘n tasbare liefdesenergie tussen die twee nie. Enboonop kry die kyker nooit juis vir Theo jammer wat droëbek op die plaas agterbly nie…

‘n Ander aspek wat bydra tot die onafgeronde smaak van French Toast, is die film se ongemaklike pas. Sommige tonele kom té nostalgies voor, terwyl metafore wat teksgewys slim geskryf is, as voor-die-handliggend voorkom. Dit onderskat die kyker se “subteks-radar”. Ander tonele voel weer heelwat uitgerek en soms vermoeiend, asof die storie in hierdie dele sukkel om momentum op te bou. Die motief vir die storie, of die rede waarom Lise in die eerste plek Parys toe gaan, raak ook plek-plek verlore, asof die storie te hard probeer fokus op die louwarm liefde tussen Lise en Jean-Pierre.

Tegnies gewys slaag French ToastParys word visueel goed uitgebeeld en die sny-ritme werk hier en daar goed, behalwe waar die musiek té veel en oordonderend voorkom. Ek wonder soms of daar ‘n mispersepsie is dat sonder musiek, of te min daarvan, ‘n toneel se siel en atmosfeer verlore sal raak, en dat die filmmaker aanneem die kyker nie gaan weet wat om te voel, of hoe om te reageer sonder die “veilige leiding” van musiek nie?

Op die ou end moet ‘n fliek vermaaklik wees en French Toast is beslis genotvol. Hoeveel van hierdie vermaaklikheidsbestandeel in die beslag gebruik is, kan net in die proe daarvan bepaal word. So hoe het French Toast gesmaak? ‘n Soetsuur negentig minute happie wat jou dalk nie vir te lank gaan bybly of versadig gaan laat nie. 

Skerms

Bitnami