Die Sneeukoningin – Animasie in Afrikaans | Bioskoop

Die Sneeukoningin – Animasie in Afrikaans

Film

Film

Info

Regie: Rina Nienaber

Met: Pierre Breytenbach, Antowan Nothling, Karen Wessels, Heidi Mollentze, Victor Voordendyk, André Stolz, Bettie Kemp, Cobus Visser, Anja Oelsen, Melt Sieberhagen, Elma Potgieter, Christine Voorendyk en Riana Wilkens.

www.indigenousfilm.co.za

Dee Theart

Dee Theart

Artikel Skrywer

Dee Theart is ’n veelsydige vermaaklikheids- en mediaslaaf. Haar kwalifikasies sluit ’n BDram-graad en ’n nagraadse kwalifikasie in Vertaling en Redigering in. Dee werk tans as MC by Silverstar Casino en Gold Reef Casino. Verder is sy is ook vryskut betrokke by RSG.

Lees Meer

Click to accept cookies and enable this content

Met die woorde “Eendag lank, lank gelede…” begin ’n eksentrieke vertellerstem Die Sneeukoningin se verhaal, en ek word eensklaps na sprokiesland verplaas. Byna elke Afrikaanssprekende assosieer daardie vier woorde met storietyd – snoesig toegevou in komberse, terwyl ma/pa/ouma/oupa ’n sprokie vir jou voorlees in jou kinderkamer, met die bedlampie wat lig verskaf vir die kleurvolle illustrasies in die groot hardebandboek.

de_sneeuwkoningin_3d_nl__37091013_st_1_s-high

Hans Christian Anderson het The Snow Queen al in 1845 neergepen en nou, in 2015, kan Afrikaanse gehore dié feëverhaal in hulle moedertaal op die grootskerm sien. Maar hoekom so ’n stokoue verhaal gaan kyk as daar elke paar maande ’n nuwe Disney- of Pixar-film vir die jongklomp vrygestel word? Ja, liewe leser, ek het myself daardie selfde vraag afgevra en hopelik nou, na die kyk van Die Sneeukoningin, kan ek ’n ingeligte opinie lewer wat jou ook so ’n bietjie anders na hierdie animasierolprent sal laat kyk.

Daar moet van die staanspoor af genoem word dat dié Afrikaanse animasieprent op visuele vlak nie nuut is nie. Trouens, die Engelse prent, The Snow Queen, het sy buiging in 2012 op die grootskerm gemaak. Die meerderheid skrywers, regisseurs, animeerders en tegniese span wat by die oorspronklike film betrokke was, is van Russiese afkoms. Wat ons nou te siene kry, is dus basies ’n oorgeklankte weergawe van presies dieselfde animasie, máár in Afrikaans. En dit laat my teleurgesteld, dog hoopvol. Teleurgesteld, want waarom kan Suid-Afrikaanse animeerders nie oorspronklike animasieprente soos Kumba aan die Suid-Afrikaanse mark voorsien nie? Hoopvol, want ek glo ons gaan wel nog eendag, nie te ver in die toekoms nie, daarby uitkom. Hierdie rolprent is alreeds ’n stap in die regte rigting en daarvoor kan ons Indigenous Film Distribution bedank.

Fusion x64 TIFF File

Die Sneeukoningin vertel ’n eiesoortige verhaal vol lewenslesse, wat jonk en oud uit die werklikheid wegraap en vir ’n volle 112 minute lank bekoor. Die storie handel breedweg oor Gerda en Kai, ’n suster en broer, wat op ’n avontuur vertrek om die bose Sneeukoningin te oorwin. Dus vertel die film die klassieke geveg tussen goed en kwaad. Maar die storie strek eintlik veel verder as dit.

Die Sneeukoningin wil graag ’n wêreld skep waar dit altyd winter is, omdat sy self ’n hartseer verlede het en nie meer die mooi in enige iets wil raak sien nie. Die meesterglasmaker, Vegard, bedreig hierdie ysige droom van die Sneeukoningin, omdat sy spieëls nie net mense se voorkoms nie, maar ook hulle siele, weerspieël. Die Poolse winde raap Vegard en sy vrou Una weg, maar hulle dogtertjie, Gerda, en babaseuntjie, Kai, oorleef. Wanneer die Sneeukoningin uitvind dat Vegard se kinders wel die stormwinde oorleef het, voel sy die bedreiging weer van vooraf aan en probeer alles in haar vermoë om die kinders te vernietig. Jy moet maar self gaan kyk of sy dit regkry en of die goedhartige Gerda en Kai oorleef en in hulle stryd slaag.

Die animasietonele is prentjiemooi, die verhaal klassiek en die hoë gehalte animasie buitengewoon. Die Russiese animasiemaatskappy, Wizart, is verantwoordelik vir die animasiebeelde, en ek moet sê dit is visueel prikkelend juis omdat dit nie soos elke tweede Amerikaanse animasieprent lyk nie. Die Russiese animasie steek hoegenaamd nie af teen wat die Amerikaners al vermag het nie – terloops, albei lande het ’n ewe lang en ryk geskiedenis in die animasiebedryf.

Die detail van veral die karakters se gesigte is so na aan realisties as wat animasie kan kom. Die sneeustorms en ysige wêreld gaan gehore ook boei. Die 3D-weergawe van die film sal gehore verseker meer deel van die ysige kammaland laat voel, maar dit is nie genoeg rede om die ekstra geldjie uit te haal nie. Die 2D-weergawe is voldoende om die rolprent steeds baie te geniet.

En dan die eintlike rede vir hierdie resensie op Bioskoop se webtuiste: die Afrikaanse teks en stemme. Kobus Geldenhuys het hom goed van sy taak gekwyt om die storie in Afrikaans te vertaal. Dit moes omtrent ’n taak gewees het om Engelse dialoog na volksmond Afrikaans te vertaal en boonop die mondbewegings van die karakters in gedagte te hou. Hierdie uitdagings het veroorsaak dat die teks plek-plek nie altyd soos Afrikaanse spreektaal klink nie en die gehoor kan moontlik hier en daar belangstelling verloor.

Sneeuwkoningin2

Die rolverdeling van die stemme is merkwaardig en bewys dat Suid-Afrika nie ’n tekort aan uitmuntende akteurs en stemkunstenaars het nie. Heidi Mollentze as die nare Sneeukoningin maak dat ’n mens werklik sidder in jou fliekstoel. Ander uitblinkerstemme sluit in Rina Nienaber as die winkeltante, André Stoltz as die hoof van die kinderhuis en Bettie Kemp as die blommeheks. Hierdie drie stemkunstenaars se jarelange ervaring gee egtheid en eerlikheid aan hulle onderskeie karakters.

Die stemkunstenaar wat egter soos ’n paal bo water uitstaan, is Pierre Breytenbach as die trol, Orm (wat ook as die verteller optree). Die fyn stemnuanses wat Pierre aan sy lawwe karakter gee, hou die kyker deurgaans vasgenael. Dis ’n jammerte dat werklike kinders selde gebruik word om kinderkarakters se stemme oor te klank, want alhoewel Karen Wessels en Victor Voorendyk helder kinderstemmetjies nageboots het as Gerda en Kai, mis ’n mens daai egte kinderlikheid. Rina Nienaber hou die leisels stewig vas as regisseur van die Afrikaanse oorklanking. Die mondbewegings en stemme sinkroniseer byna perfek.

Die Sneeukoningin is verseker nie die beste animasieprent van alle tye nie, maar daar is iets uiters outentiek aan die rolprent wat jou sal bybly. Talle morele lessies is in die kleurryke verhaal geweef en met die stemme in ons moedertaal, sal die storie veel dieper tot die Afrikaanse gehoor se hart spreek. Luister ook vir die plaaslike sangeres Leah se “Flitslig” as die temalied van die rolprent.

Mag Die Sneeukoningin die Afrikaanse animasiebedryf ’n hupstoot in die regte rigting gee.

Bruto(ZAR)

Skerms

Bitnami