Craig Gardner se My Father’s War beskikbaar op DVD | Bioskoop

Craig Gardner se My Father’s War beskikbaar op DVD

Film

Film

Info

Regie: Craig Gardner

Met: Edwin van der Walt, Stian Bam, Erica Wessels en Fumani Shilubama

www.myfatherswar.co.za

Martie Bester

Martie Bester

Artikel Skrywer

Lees Meer

Akteur, skrywer, vervaardiger en filmmaker Craig Gardner se debuutfilm My Father’s War is vanaf 7 November 2016 te huur by videowinkels, is vanaf 9 November 2016 beskikbaar op DStv BoxOffice en die DVD sal op 25 November 2016 te koop wees by uitgesoekte winkels.

Hierdie drama fokus op die gebroke verhouding tussen ’n pa en sy rebelse tienerseun wat in 2003 afspeel. Dap Smit (Edwin van der Walt), baklei voortdurend met sy pa, Dawid (Stian Bam), ’n veteraan van die Grensoorlog en daar is klaarblyklik geen hoop op versoening tussen hulle nie. Dawid se vrou, Carina (Erica Wessels) is in die middel van die pa en sy seun se epiese worsteling vasgevang.

Dan kry Dap ’n reeks drome waarin hy ’n vegsoldaat tydens die Grensoorlog in die 1980’s is. Daar ontmoet hy sy pa (toe hy so oud was soos hy), en beleef hy eerstehands waardeur soldate in daardie tyd – en dus ook sy eie pa – moes worstel. Hierdie drome verander Dap se persepsie, hart en lewe onherroeplik met verreikende gevolge vir hom en sy pa.

“Toe ek vir die rol voorberei het, het ek vir ’n vegsoldaat gevra om vir my raad te gee oor hoe hy sy trauma verwerk het. Hy het erken dat hy min met sy vrou gedeel het en dat sy dit maar mettertyd ervaar het. Hy praat egter deesdae met sy seun en dit help met genesing,” sê Stian Bam.

Volgens die vervaardiger, Peter Lamberti en Gardner was die grootste uitdaging van die film om die tema van ’n gebroke verhouding met die Grensoorlog te kombineer – met ander woorde, om ’n gaping tussen ’n pa en sy seun te oorkom omdat die oorlog feitlik dertig jaar gelede plaasgevind het. En om hierdie uitdaging te oorbrug, het Gardner die belangrike droomtonele geskep.

Gardner sê: “Met Peter se ongelooflike insette, is elke droom geskep om die ontvouende storie verder te vertel. Dus is daar nie enige ongeoorloofde vegtonele nie. Die oorlogsdrome is eerder mikrokosms van regte gebeure wat by fiksie aansluit om óf die karakters óf die storielyn te bevorder – klein ‘mini-stories’ – binne die groter verhaal.”

Kyk hier na die lokprent:

Aangepas uit oorspronklike persverklaring uitgereik deur Starburst Promotions

Kommentaar

kommentaar