2018 Oscar-benoemings beklemtoon diversiteit en inklusiwiteit | Bioskoop

2018 Oscar-benoemings beklemtoon diversiteit en inklusiwiteit

Die 2018 Oscar-benoemings, wat op 23 Januarie in Beverly Hills aangekondig is, word geprys vir hulle inklusiewe aard wat gedeeltelik vermag is met die geweldige aanvuurkrag van die #OscarsTooWhite- en #metoo-bewegings.

Martie Bester

Martie Bester

Artikel Skrywer

Lees Meer

Vir die eerste keer in die geskiedenis van die Oscars, loop ’n ‘gruwelprent’, ‘The Shape of Water’, voor in die toekennings se regmerkielysie met 13 nominasies vir onder meer beste rolprent, beste regisseur – vir die Mexikaanse filmmaker Guillermo del Toro (‘The Devil’s Backbone’, ‘Pan’s Labyrinth’, ‘Hellboy’), beste oorspronklike draaiboek (Del Toro, Vanessa Taylor), beste aktrise (Sally Hawkins), beste ondersteunende akteur (Richard Jenkins) en beste klankbaan (Alexandre Desplat).

‘Get Out’, een van die mees opspraakwekkende gruwelprente uitgereik in 2017 deur skrywer en regisseur Jordan Peele, is ook vir beste rolprent en beste draaiboek genomineer en Daniel Kaluuya, die jong Britse akteur wat die hoofrol in hierdie film vertolk, is as beste akteur genomineer.

Ongelukkig het Suid-Afrikaanse gehore nog nie die geleentheid gehad om meeste van die ander nominasie-voorlopers in die Oscar-resies onder oë te kry nie, soos die veelbekroonde ‘Lady Bird’ wat vir Greta Gerwig ’n beste regie-nominasie besorg het. In die negentig- jaarlange geskiedenis van die Acadamy-toekennings is Gerwig slegs die vyfde vrou wat as beste regisseur genomineer is – en is Rachel Morrison die eerste vrou wat benoem is as beste kinematograaf vir haar werk aan die drama, ‘Mudbound’.

Buiten ‘The Shape of Water’, het ‘Dunkirk’ agt nominasies ontvang waaronder die eerste vir Christopher Nolan (‘Memento’, ‘The Prestige’, ‘Inception’, ‘Interstellar’) as beste regisseur. ‘Three Billboards Ouside Ebbing Missouri’ het sewe nominasies ontvang, onder andere vir beste aktrise vir Frances McDormand en beste ondersteunende akteur vir onderskeidelik Sam Rockwell en Woody Harrelson. ‘Lady Bird’ het vyf nominasies ontvang en ‘Get Out’ vier.

Die volgende fliek-atlete neem deel aan die Oscar-resies vir beste rolprent:

Call Me By Your Name – ’n Uitsonderlike liefdesverhaal en hierdie jaar se trotse LGBT-verteenwoordiger

Darkest Hour – Die bekroonde en nou Oscar-genomineerde lewende legende, Gary Oldman, beeld Winston Churchill se vroeë dae as Eerste Minister uit in hierdie Britse oorlogsdrama

Dunkirk – Christopher Nolan se verbysterend geniale oorlogsfilm

Get Out – Sosiale en rassekwessies word onvergeetlik uitgebeeld in hierdie gruwelprent

Lady Bird – Hierdie fantastiese ‘coming-of-age’ dramakomedie se uiters talentvolle Saoirse Ronan is genomineer vir beste aktrise – sy is net 23 jaar oud en hierdie is haar derde benoeming in hierdie kategorie

Phantom Thread – Daniel Day Lewis se laaste rol op die groot skerm in die meesterlike Paul Thomas Anderson (‘Magnolia’, ‘There Will Be Blood’, ‘The Master’) se jongste rolprent. Verbasend genoeg het Anderson het nog nooit ’n Oscar ontvang nie.

The Post – Steven Spielberg se opspraakwekkende film gebaseer op die ware verhaal van joernaliste van ‘The Washington Post’ en hulle pogings om die ‘Pentagon Papers’ te publiseer. Meryl Streep het haar 21ste Oscar-nominasie ontvang vir haar rol as Katharine Graham in die film

The Shape of Water – Guillermo del Toro se ‘gruwelprent’ is ’n liefdesverhaal vir almal en veral vir die res wat dink hulle is anders, wat al soos monsters behandel is, wat slegs liefde waardig is – ’n onvergeetlike, beeldskone film

Three Billboards Outside Ebbing Missouri – ’n Ma daag die plaaslike polisiediens uit wanneer hulle nie daarin slaag om haar dogter se moordenaar vas te trek nie.

Ek dink die onvoorspelbaarste Oscar-resies in die geskiedenis van hierdie toekennings wag op ons en dat daar baie verrassings vir fliekvlooie gaan wees wanneer die film-heelal se mees gesogte goue beeldjies op 4 Maart 2018 oorhandig word.

Kommentaar

kommentaar